Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lewensmaat sterf in sy arms ná rooftog
Wolmarans en Marthie Rademeyer.Foto: Verskaf

Allan Wolmarans (54) het by gewapende rowers gesoebat dat hulle hom toelaat om sy lewensmaat te help nadat een van hulle haar geskiet het.

Wolmarans se lewensmaat van die afgelope 15 jaar, Marthie Rademeyer (44), is ’n rukkie daarna in sy arms dood. Hy noem haar sy vrou omdat hulle so lank saam was.

Rademeyer is Sondagaand op die toneel dood ná ’n gewapende rooftog by ’n sakeperseel op ’n kleinhoewe buite Pretoria.

Die voorval het omstreeks 21:00 in die agterplaas van die Wolmarans-kafee op die R101 (ou Warmbadpad) in die gebied tussen Pyramid en Hammanskraal, noord van Pretoria, gebeur.

Die Wolmarans-familie bedryf ook ’n drankwinkel en vulstasie op dieselfde perseel.

Ek het alles probeer. Ek het haar so vasgehou en sy is in my arms dood.
Wolmarans vertel van die nagmerrie-aand wat sy lewensmaat, Marthie Rademeyer (44), se lewe gekos het.

Volgens Wolmarans was dit aanvanklik ’n “normale aand”.

Hulle het klaar gewerk, die kafee toegesluit en was uiteindelik op pad huis toe. Die paartjie woon op ’n kleinhoewe sowat 300 m van die familieonderneming af.

Rademeyer was ’n diabeet en gaan gewoonlik vroeër huis toe, maar dié aand het sy besluit om vir Wolmarans te wag.

“Hoekom, weet ek nie,” sê hy.

Hulle het in die Toyota Fortuner geklim, maar moes weer uitklim om met die bakkie te ry omdat een van die bande pap was.

Allan Wolmarans (54) is met ’n vuurwapen in die gesig geslaan tydens ’n gewapende rooftog by ’n sakeperseel op ’n kleinhoewe buite Pretoria. Hy het swelling op die brein en steke in sy voorkop.Foto’s: Felix Dlangamandla

Rademeyer het buite vir Wolmarans gewag, terwyl hy die bakkie se sleutels in die kafee gaan haal het.

Wolmarans het teruggekeer en skielik het twee gewapende mans uit die niet hul verskyning aan weerskante van die bakkie gemaak.

“Ek het net gesien sy kom so om die bakkie gehardloop en toe klap ’n skoot. Daarna was hulle besig om my te verniel,” sê hy.

Die booswigte het geld geëis, terwyl hulle Wolmarans met vuurwapens in die gesig geslaan het.

“Ek het mooi gevra of ek net na my vrou kan kyk, om haar te help.”

Die agterplaas van die sakeperseel op die kleinhoewe waar die voorval Sondagaand afgespeel het.

Intussen het Sarie Wolmarans, Wolmarans se 90-jarige ma wat op die perseel woon, ’n geluid buite haar kombuisvenster gehoor waar die voertuie geparkeer is. Daar is ook woonhuise in die agtererf van die sakeperseel.

Sy het gedink skelms is besig om die bakkie te steel.

“Ek het nie geweet die kinders is nog hier nie. Ek het drie keer vir hulle gevra wat maak hulle,” sê Sarie.

“Een van hulle het in Afrikaans vir my gevra: ‘Waar is jou man?’ en die venster stukkend geslaan.”

Sy het die noodknoppie gaan druk en die rowers het met onder meer R1 000 kontant en selfone gevlug.

“Hulle is daar weg toe gryp ek haar (Marthie). Ek het alles probeer. Ek het haar so vasgehou en sy is in my arms dood,” sê Wolmarans.

Terwyl die polisie die toneel ondersoek het, is hy met ’n ambulans na die Montana-hospitaal geneem en Maandag omstreeks 04:00 ontslaan.

Ek is die bliksem in. Dinge in die land moet net regkom – jy skiet nie mense dood vir niks nie.

Hy het onder meer kneusplekke in die gesig, swelling op die brein en steke in sy voorkop.

Wolmarans is onseker hoeveel skote tydens die voorval afgevuur is en hoeveel koeëls Rademeyer getref het.

“Hulle sê sy is drie keer geskiet. Ek weet nie – ek het net die een gehoor,” sê hy.

“Dis nie mooi nie . . . Die skoot wat ek gesien het, is in die mond.”

Wolmarans sê dat “een moerse opdraande” nou vir hom voorlê.

“Ek is die bliksem in. Dinge in die land moet net regkom – jy skiet nie mense dood vir niks nie.”

Wolmarans op die toneel waar hy Rademeyer (44) Sondagaand vir die laaste keer lewend gesien het.

Nog geen begrafnisreëlings is vir Rademeyer getref nie.

“Sy was goed vir my,” sê Wolmarans.

Sy kinders, Chanel (22) en Demi (21), beskryf haar ook as ’n “sagte” en “skadelose” mens.

Vir Wolmarans se broer, Johan (66), wil dit voorkom asof die familie en hul onderneming geteiken word.

Met Sondagaand se voorval ingesluit, was daar sedert Maart ’n klomp misdade op die sakeperseel.

“Daar was ’n gewapende rooftog by die petrolpompe, ’n gewapende rooftog by die drankwinkel waar voorraad gesteel is, daar is ingebreek by die restaurant in die veld, asook by die kafee se stoorkamer en nou dié,” sê Johan.

“Dit maak my bitter kwaad.”

Die polisie is om kommentaar genader. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Allan Wolmarans  |  Pretoria  |  Moord  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.