Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Liefdevolle huwelik eindig in raaiselskote

Die egpaar van Limpopo wat die afgelope week ná ’n oënskynlike gesinstragedie bebloed in hul huis op die luukse Koro Creek Bushveld-gholflandgoed buite Modimolle gekry is, was eens baie geheg aan mekaar.

Botes en Chrisna van der Merwe.

Botes van der Merwe, ’n 46-jarige beroepsjagter, is dood nadat hy twee keer in die rug en een keer in die bors geskiet is. Sy lyk is in die slaapkamer gekry en sy vrou, Chrisna (40), is in die maag geskiet. Sy is nog in ’n bedenklike toestand in die hospitaal.

Botes het ook ’n kopwond gehad wat waarskynlik veroorsaak is toe hy met sy kop teen die toilet geval het. “Die wond was redelik groot,” sê ’n ingeligte.

Maar presies wat tot die skietery gelei het, of selfs wie die skote afgevuur het, is steeds ’n raaisel.

Wie die skote geskiet het, is ’n raaisel.

Twee 9 mm-pistole wat in Botes en Chrisna se name geregistreer is, is op die toneel gevind. Botes se vuurwapen is glo nie naby sy lyk gekry nie. Rapport verneem betroubaar Chrisna, wat by haar bewussyn was toe paramedici opdaag, het op die toneel gesê sy het haarself per ongeluk geskiet. Daar was egter geen brandmerke rondom die wond soos jy sou verwag van iemand wat haarself skiet nie, het Rapport se bron beweer.

Ao. James Findlay, ’n woordvoerder van die Modimolle-polisie, sê as Chrisna haarself geskiet het, sal die forensiese ondersoek dit toon.

Die lykskouing op Botes is Vrydagmiddag gedoen, maar die uitslag was gister nog nie bekend nie.

Botes saam met sy dogters, Jane en Celiné. Foto’s: Facebook

Teresa Botha, Botes se eerste vrou en ma van hul twee dogters, Celiné (21) en Jane (18), sê hulle kry swaar.

“Dit gaan nie goed met die kinders nie, veral Celiné, wat daar was toe dit gebeur het.” Sy was Dinsdagaand glo buite die huis toe die skote geklap het.

Dries van Coller, president van die beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa), het die voorval as ’n groot tragedie beskryf. Hy sê Chrisna was altyd saam met Botes op jagskoue. Die aande wat hulle saamgekuier het, was Botes en Chrisna respek- en liefdevol teenoor mekaar. “Chrisna het gehelp met die bemarking van internasionale skoue. Almal in die jagkringe is baie geskok.”

Chris Lorden, ’n kollega van Botes, sê hy was die een mens in die jagbedryf van wie hy nog nie een slegte woord gehoor het nie.

Chrisna is in ’n geïnduseerde koma in die Unitas-hospitaal in Centurion.

Findlay sê die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar die klag kan enige tyd verander na moord.

David Riddle, hoofbestuurder van die Koro Creek Bushveld Golf Estate, wou nie kommentaar lewer nie. “Dit is die polisie se ondersoek. Ons het meer as 200 gesinne wat op die landgoed woon.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.