Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Seesterre, slangvelle op ongelukstoneel gevind
Van die nege boerbokke wat agter in die kattebak van 'n Nissan Sentra gedruk was.

Gedroogde seesterre, slangvelle, krappe en lewende boerbokke in die kattebak van ’n motor – dis waarop die polisie in Limpopo dié naweek in twee afsonderlike voorvalle beslag gelê het.

Van die gedroogde seediere wat in Limpopo gekry is ná 'n grusame ongeluk buite Hoedspruit.

Brig. Motlafela Mojapelo, die polisiewoordvoerder in Limpopo, sê dit is steeds ’n raaisel van waar streepsakke en plastiekemmers vol gedroogde seesterre, slangvelle, krappe en ander seediere, gekom het wat Saterdagmiddag buite Hoedspruit op ’n ongelukstoneel gekry is.

’n Toyota Avanza en ’n viertrek-Toyota-bakkie het omstreeks 16:00 reg van voor gebots op die R531-pad tussen Hoedspruit en Swadini.

Agt mense is in die grusame ongeluk dood en ’n negende insittende het later in ’n nabygeleë hospitaal gesterf.

Mojapelo sê die emmers en streepsakke vol gedroogde slangvelle, seesterre en krappe was agterop die enkelkajuit-Toyota-bakkie.

Die polisie se eenheid vir bedreigde spesies is besig met ’n ondersoek om vas te stel hoe die seediere in Limpopo, wat honderde kilometers van die see af is, gekom het.

Dit is ook onduidelik waarheen die besending op pad was.

Die grusame ongelukstoneel by Hoedspruit, in Limpopo, waarin nege mense Saterdag dood is.
'n Gedroogde seester op ’n ongelukstoneel in Hoedspruit, Limpopo.

Mojapelo sê slegs een man het die ongeluk oorleef. Hy word in ’n hospitaal behandel.

In ’n ander voorval het die polisie Vrydag in die vroeë oggendure op nege boerbokke afgekom wat ingedruk was in die kattebak van ’n Nissan Sentra.

Mojapelo sê die polisie wou die motor naby die Seirapies-nedersetting in Gilead van die pad trek.

Die bestuurder het egter weggejaag en die polisie het hom agternagesit. In die jaagtog het twee mans by die vensters van die motor uitgespring en in die bosse verdwyn.

Die polisie het die motor uiteindelik van die pad getrek en toe op die boerbokke in die kattebak afgekom. Die diere is glo vroeër die aand gesteel.

Mojapelo sê die bokke is na die dierebeskermingsvereniging (DBV) in Mokopane (Potgietersrus) gevat. “Enigiemand wat bokke vermis, kan na dié DBV gaan. Neem die nodige dokumente saam wat eienaarskap van die bokke bevestig.”

Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem.

Mojapelo sê die polisie in Limpopo doen alles moontlik om veediefstal in die provinsie te bekamp.

Meer oor:  Beslaglegging  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.