Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lol-dokter gepos

’n Tandarts van Midrand is sy werk kwyt nadat ’n politieke joernalis, wat sê hy het met hom gelol terwyl hy kleintyd sy pasiënt was, ’n webblad begin het om te eis dat die tandarts van kinders weggehou word.

Dr. Izak Geldenhuys

Dr. Izak (Sakkie) Geldenhuys (63) is drie keer tussen 1991 en 2005 aan onsedelike aanranding op kinders skuldig bevind. Tog het hy nog tot Maandag gewerk by ’n tandartspraktyk in Midrand wat as ’n “familie-praktyk” bemark word.

Die eienaar van die praktyk het sy dienste beëindig nadat sy van die bewerings gehoor het. Sy het gesê sy het nooit in die tien jaar wat hy daar gewerk het enige klagtes oor hom gekry nie.

Dit blyk die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) het Geldenhuys se lisensie om te praktiseer in die 1990’s vir drie jaar opgeskort, maar dit is onduidelik of daar ooit enige ander stappe teen hom gedoen is. In dié drie jaar het hy as ’n busbestuurder gewerk, en hy is later skuldig bevind op aanklag dat hy ’n seun op die bus en elders gemolesteer het.

Die RGBSA het nie op navrae gereageer oor waarom Geldenhuys ondanks die skuldigbevindings steeds praktiseer nie.

‘Hy het dan sy hand by my broek ingedruk.’

Dít is presies wat die joernalis T.O. Molefe (38) en ander mans wat beweer dat hulle ook slagoffers was, wil weet. “Ons wil weet waarom hy nog nie toegang tot potensiële slagoffers ontneem is nie,” lui Molefe se pleidooi op die webblad justicereclaimed.co.za. Hy vra op die blad dat ander slagoffers hom kontak.

Molefe het in 1993 in Mahikeng draadjies gekry en was toe Geldenhuys se pasiënt.

“Ek was 12 jaar oud en my ma was die eerste paar keer saam, maar later het ek alleen gegaan. Terwyl ek in die tandartsstoel gelê het, het Geldenhuys sy hand afbeweeg na my penis en dit bo-op my denim gevryf. Ek het so geskrik dat ek gevries het.”

Dit het meer as een keer gebeur, vir twee jaar lank, sê Molefe. Hy het sy ma daarvan vertel. Sy was woedend en wou Geldenhuys by die polisie verkla, maar Molefe was skaam en het haar oorreed om dit te los, sê hy.

Molefe het ’n paar jaar gelede kennis gemaak met Albertus van Wyk (47), ’n voormalige tydskrifredakteur en entrepreneur, en Willem Maritz (40), ’n sakeman wat deesdae in Europa woon. Hulle sê albei Geldenhuys het in die 1980’s met hulle gelol toe hulle in Balfour in Mpumalanga kinders was.

Van Wyk sê hy het as 12-jarige vakansies by Geldenhuys gewerk vir sakgeld.

“Hy het ons baie subtiel ge­groom sodat ons hom in ons spasie toelaat en gesien het as ‘een van ons’ – iemand met wie jy kon praat oor seksuele goed wat jy nie met ander grootmense kon bespreek nie.

“Hy het graag geld uitgedeel, vir ons geskenke gekoop en ons vermaak. Hy het jong seuns een-een na sy huis genooi om blue movies te kyk. Dit was die eerste keer dat ek na pornografie gekyk het. Dit het ’n gewoonte geraak en kort voor lank het hy my in sy web gehad en daar was gesamentlike masturbasiesessies by sy huis. En ja, hy het sy luck gepush,” sê Van Wyk.

“Die ergste was dat volwassenes in die dorp geweet het wat hy doen, maar hy is nooit gestop nie. Ons is net gewaarsku dat hy met seuns vroetel en dat ons versigtig moes wees,” sê Van Wyk.

Maritz sê Geldenhuys het hom ook met geld en geskenke omgekoop toe hy 12 was. “Hy het altyd planne gemaak om my in afsondering te kry. Hy sou byvoorbeeld sorg dat ek die laaste afspraak van die dag by die spreekkamer kry,” vertel Maritz.

“Terwyl ek in die tandarts-stoel gelê het, het hy dan sy hand by my broek ingedruk en my laat masturbeer,” sê Maritz.

Geldenhuys erken hy het voorheen oortree, maar hy sê hy het sy straf uitgedien. Hy het vier jaar tronkstraf uitgedien.

Hy ontken egter dat hy ooit vir Van Wyk of Maritz te na gekom het of dat hy ooit pornografie besit het.

Hy sê hy kan Molefe glad nie onthou nie.

Maritz sê hulle vertel hul stories in die hoop dat dit ander slagoffers sal help.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Albertus Van Wyk  |  Midrand  |  Tandarts  |  Kindermolestering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.