Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lorriedrywers slaap deesdae lig uit vrees vir geweld
Sedert April is 84 vragmotors in gewelddadige protesoptredes uitgebrand. Foto: Argief

Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders slaap deesdae lig en “hoop en bid” hulle kry nie enige moeilikheid van betogers nie.

Vervoerroetes het in die afgelope twee weke weens gewelddadige protesoptredes in ’n slagveld verander.

Jan Venter, ’n vragmotorbestuurder en -eienaar van die Vrystaat, sê al waarvoor hy hoop is om nie enige kwaadwillige betogers op sy roetes na Gauteng raak te loop nie.

“Die werk kan nie stilstaan nie. As ’n vrag bespreek is, soek die kliënt dit so gou as moontlik. ’n Mens ry dus maar en hoop vir die beste.”

Hy, net soos Petrus Roos van Mpumalanga, volg onder meer ’n verskeidenheid veiligheidsgroepe op WhatsApp om vooraf gewaarsku te word.

“Ons is ’n netwerk van vervoermaatskappye en bestuurders wat voortdurend met mekaar in kontak bly en mekaar waarsku as daar gevaar is,” sê Roos, eienaar van P.G. Roos Vervoer.

Die interministeriële komitee, wat vragmotorbestuurders se griewe ondersoek, het Donderdag in ’n verklaring gesê 13 voorvalle waarin vragmotors aan die brand gesteek is, is die afgelope maand aangemeld. Van April tot November is 84 gevalle aangemeld.

’n Multidissiplinêre span van die polisie stel ook ondersoek in.

Volgens kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, is dit ’n reuse-taak want inligting oor die protesoptredes word deur gesiglose mense op sosiale media gedeel.

Die aanvalle op vragmotors was deel van ’n protesoptrede van drie dae om padvervoermaatskappye te dwing om nie buitelandse vragmotorbestuurders in diens te neem nie.

Die organisasie All Truck Drivers Forum and Allied South Africa (ATDFASA) het vroeër in ’n verklaring gesê hy steun die protes, maar verwerp enige vorm van geweld.

Die wrakstukke van vragmotor wat Maandagaand in Leondale in Johannesburg aan die brand gesteek is. Foto: Facebook/SA Long Distance Truckers

Intussen het buitelandse vragmotorbestuurders in ’n boodskap wat op sosiale media versprei is, glo gedreig om “geweld met geweld te vergeld”.

’n Organisasie wat homself die South African Development Community Crossborder Drivers Forum noem, het glo die boodskap gestuur.

Luidens die skrywe sal alle buitelandse vragmotors na Suid-Afrika vanaf 29 November tot 1 Desember ophou ry. Suid-Afrikaanse vragmotors sal ook gekeer word om die landsgrense oor te steek.

“En let daarop dat enige maatskappy wat sy vragmotors dwing om gedurende daardie tyd te beweeg, dit op eie risiko sal doen en hulle moet regmaak daarvoor dat hul vragmotors sal brand,” lui ’n gedeelte van dié boodskap.

Mehlo Mehlomakulu, sekretaris-generaal van die forum, het egter ontken dat hy enigiets met die boodskap te doen het.

Hy het egter gesê hoewel hy die dreigement kan verstaan, “moet geweld nie die antwoord wees nie”.

Sy forum poog om ’n vreedsame oplossing te vind sodat buitelanders steeds toegelaat sal word om in Suid-Afrika te werk.

“ATDFASA het dit egter duidelik gestel dat hy nie belangstel om in gesprek te tree nie,” aldus Mehlomakulu.

Sifiso Nyathi, sekretaris van ATDFASA, het hierop gesê die Suid-Afrikaanse regering is die een wat plaaslike vervoermaatskappye moet verhoed om buitelanders aan te stel. Hy meen dit is ’n ongrondwetlike praktyk.

Intussen doen plaaslike vragmotorbestuurders alles in hul vermoë om veilig te bly.

Roos se vragmotors word onder meer nie toegelaat om in die nag te ry nie.

Vir Venter is dit ’n frustrasie wat ’n regstreekse invloed op sy onderneming het.

“Om ’n ompad te ry om konflik te vermy help min, want dan verloor jy al jou wins,” sê hy.

Roos meen dit is ’n klein groepie kwaadstokers wat agter die aanvalle sit. As die geweld nie daadwerklik aandag geniet nie, kan dit enorme gevolge vir sy onderneming en ook vir die land se ekonomie inhou.

“As vragmotors net ’n week tot stilstand kom, is ons in ons maai,” sê hy.

Regering sê hy sal beslissend optree

Die regering het Donderdag in ’n verklaring gesê beslissende optrede kom teen die geweld en misdaad in die vervoerbedryf. Thulas Nxesi, minister van arbeid het namens die namens die interministeriële komitee gesê volgehoue monitering vind plaas sodat inligting ingesamel kan word. Meer hulpbronne sal in brandpunte ontplooi word, terwyl gesprekke met die relevante partye voortgesit word.

Die komitee sal ook werk maak daarvan om die relevante wetgewing en regulasies te hersien en aan te pas waar nodig.

Nxesi het daarop gewys dat die gewelddadige optrede ’n negatiewe effek het op die vryhandelsgebied van die lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), wat binnekort in werking tree.

“Suid-Afrika is ’n toonaangewende dienstebestemming, vervaardigingsentrum en een van die mees geïndustrialiseerde lande in Afrika,” sê hy.

Daarom is dit in niemand se belang om vragmotors uit te brand nie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.