Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lotz-pa: ‘Nou weet ons als’
Prof Jan Lotz in 2012 Foto: Nasief manie
Thomas Mollett Foto: Leanne Stander
Calvin Mollett

Die pa van die vermoorde Matie-student Inge Lotz gaan nou een van die amateur- forensiese ondersoekers wat sy dogter se dood ondersoek het, help om sy meestersgraad in biomediese forensiese wetenskap te doen.

Prof. Jan Lotz sê die feite wat gebied word deur die broers Thomas en Calvin Mollett in hul boeke Bloody Lies en Bloody Lies Too, wat albei oor die dood van sy dogter handel, het antwoorde gegee op “ ’n miljoen” van sy vrae.

Die 22-jarige Inge was ’n meestersgraadstudent in wiskundige statistiek toe haar bebloede liggaam op 16 Maart 2005 in haar woonstel in Welgevonden, Stellenbosch, gevind is. Sy is herhaaldelik met ’n skerp voorwerp in haar bors gesteek en ook met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Haar destydse kêrel, Fred van der Vyver, is op ’n klag van moord in hegtenis geneem, maar ná ’n uitgerekte verhoor in 2007 vrygespreek toe die hof bevind het die polisie het getuienis teen hom versin.

Lotz het in Maart 2012 ’n beloning van R1 miljoen uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van sy dogter se moordenaar sou lei. Hy het ook die dienste van die speurder Piet Byleveld bekom, maar dié kon nooit hond haaraf maak nie.

‘Hul navorsing bring soeke na waarheid tot ’n einde’ – Jan Lotz

Intussen het die Mollett-broers, twee amateur- forensiese ondersoekers met geen formele opleiding in die veld nie, met hul eie ondersoek begin. Hulle het later twee boeke oor die saak geskryf waarin hulle verskeie teenstrydighede in die polisie se ondersoek uitwys.

Lotz het Vrydag in ’n brief aan Rapport gesê die Mollett-broers se werk het ’n einde aan sy soektog na antwoorde gebring. “Ons aanvaar ná 11 jaar dat Inge se moordenaar nooit amptelik geïdentifiseer sal word nie. Ons en die publiek wat belangstelling in hierdie saak het, sal vir altyd ’n eie subjektiewe oordeel moet vorm oor presies wat daardie laatherfsmiddag van 2005 in Stellenbosch gebeur het.

“Alles wat geskryf of gepubliseer is, sal altyd deel wees van die raaisel van hierdie onbeskryflike tragedie.”

Jan Lotz en sy dogter, Inge in 2004 by haar gradeplegtigheid. Foto: Verskaf

Lotz, ’n professor in radiologie, het die Molletts se boeke as “uitstaande wetenskaplik verantwoordbare werk” en as “sentraal in die hele proses” beskryf. “Uit die aard van die saak het die feite wat hierin na vore gebring is, my soeke na die waarheid oor my kind se dood tot ’n einde gebring. Thomas Mollett is ’n hoogs intelligente individu met ’n besonderse analitiese brein.

“Ek het vir geen oomblik getwyfel dat ek hom finansieel sal ondersteun as hy sou inskryf vir ’n meestersgraad in forensiese wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad nie. Op hierdie manier kry ek die geleentheid om aan die Mollett-broers dankie te sê vir alles wat hulle in die afgelope paar jaar gedoen het in ’n poging om die waarheid op die tafel te plaas. Dit bied my ook die geleentheid om ’n verskil aan hierdie talentvolle jong man se lewe te maak.

“Ek hoop ons word gespaar om teenwoordig te wees wanneer Thomas Mollett ’n doktorsgraad in forensiese wetenskap ontvang.”

Thomas Mollett (45) sê dié week hy en Calvin (49) is “verheug dat ons prof. Lotz van antwoorde kon voorsien of uitklaring oor goed kon gee wat hy vermoed het en nuwe goed na die tafel gebring het. Dit was ook nog nooit ons oogmerk om die saak ‘op te los’ nie. Ons wou dit wetenskaplik herbesoek en hoewel sekere afleidings onafwendbaar is, kan mense hul eie afleidings maak. Ons veg om ons werk in die hof getoets te kry en ek sal enige mens enige tyd te woord staan daaroor.

“Ons het die saak objektief vanaf ’n skoon blad wetenskaplik en met vars oë herbesoek en baie navorsingswerk gedoen. Ons is vol vertroue dat sekere areas nou duideliker uitgeklaar is, wat dit ook al mag impliseer. Ons sal ons werk enige dag enige plek verdedig, insluitende die hof. Trouens, dit is waar ons ons werk getoets sal wil sien.”

Meer oor:  Inge Lotz  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.