Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Louiesenhof-moord: 3 skote, 2 vuurwapens

Drie skote met twee vuurwapens van ’n verskillende kaliber.

Dit is hoe die wingerdboer Stefan Smit, eienaar van die plaas Louiesenhof buite Stellenbosch, op Sondag 2 Junie aan sy einde gekom het.

Sy moordenaars, drie gemaskerde mans, is nog soek.

’n Foto van Stefan Smit op die pamflet wat vir sy gedenkdiens saamgestel is. Foto: Jaco Marais

Daar is aanvanklik berig dat die moord op Smit ’n plaasaanval was en dat hy moontlik geteiken is weens sy weiering om die plaas Watergang aan die Stellenbosch-munisipaliteit vir behuising vir grondbesetters van Kayamandi te verkoop.

Die gerugte is egter gou in die kiem gesmoor nadat Midas Winana, van die grondbesettersorganisasie Azanië, die moord ten sterkste veroordeel het. Winana het ’n dag ná die moord op Smit gesê dat dit beslis nie hulle was nie.

“Ons het geen rede gehad om mnr. Stefan seer te maak nie. Ons het dan geweet die munisipaliteit het die grond gekoop. Ons onderhandel met die munisipaliteit. Mnr. Stefan was nog altyd net ordentlik met ons,” het Winana toe gesê.

Dit het toe ook die eerste keer bekend geword dat Smit Watergang reeds in April vanjaar verkoop het. Dié plaas van sowat 60 ha is vir sowat R45 miljoen aan die Stellenbosse munisipaliteit verkoop.

Vrae het kort ná Smit se dood ontstaan oor hoe sy moordenaars toegang tot sy plaas en die huis gekry het.

Vriende van hom het eksklusief aan Netwerk24 gesê dat hy baie veiligheidsbewus was en nooit enige van sy huis se deure oop sou los nie.

Netwerk24 het ook vasgestel dat daar geen gedwonge toegang tot die plaas was nie.

Zurenah Smit, Stefan Smit se weduwee, by sy gedenkdiens in Junie vanjaar. Foto: Jaco Marais

Ná sy dood het dit verder bekend geword dat Zurenah, Smit se vrou van die afgelope 14 jaar, volgens bronne na aan die familie niks uit sy boedel geërf nie.

Volgens dié bronne het Smit in Desember verlede jaar sy testament verander. Die testament is glo die Vrydag ná ’n gedenkdiens vir Smit gelees.

Daar is aan Netwerk24 gesê dat Louie en Martine, Smit se twee dogters uit sy eerste huwelik, ’n buitelandse belegging van etlike miljoene erf.

Die res van sy boedel is glo aan die Ribbok Heuwels Trust bemaak. Die begunstigdes van die trust is volgens inligting Smit se suster en sy twee dogters. Esmé Smit, sy eerste vrou en ma van sy twee dogters, is glo een van die trustees van die trust.

Dit blyk volgens die bronne dat Zurenah (53) net verblyfreg in ’n aftreeoord in Stellenbosch, glo die Stellenoord 8, verkry het.

Daar is glo ook ’n bepaling dat die “voordeel” teruggaan na die boedel sou Zurenah te sterwe kom.

Zurenah mag wel glo geskenke hou wat sy by Smit voor sy dood ontvang het. Enige lenings wat sy egter voor sy dood aangegaan het of aan haar gemaak is, moet aan sy boedel terugbetaal word.

Intussen handhaaf die Wes-Kaapse polisie ’n absolute stilte oor enige vordering in die saak.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, het Dinsdag gesê dat die ondersoek beslis nog voortgaan.

“Ons kan egter nie enige verdere inligting bekend maak nie omdat dit die ondersoek kan belemmer,” sê hy.

Verskeie pogings om Zurenah vir kommentaar te nader, het niks opgelewer nie.

Meer oor:  Zurenah Smith  |  Stefan Smit  |  Louiesenhof  |  Stellenbosch  |  Moord-Ondersoek  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.