Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Luister: Pangarker ontken in oproep hy het Tazne gevat

Moyhdine Pangarker (54) het in die dae voordat hy deur die polisie in Cradock in die Oos-Kaap in hegtenis geneem is, in ’n telefoonoproep aan ’n familielid ontken dat hy Tazne van Wyk (8) ontvoer het.

Moyhdine Pangarker (54)

In die gesprek met sy suster Nasma sê hy hy het Tazne die Vrydag toe sy weggeraak het by die huiswinkel naby haar ouerhuis in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier, in Kaapstad gesien. Hy sê sy het daar gesit en ’n “bompie” (vrugtesap-ysie) gedrink. Hy het glo weggekyk en toe hy terugdraai is die kind weg.

Sy suster sê dan in die opname vir hom die eienaar van die huiswinkel het glo aan die polisie gesê hy (Pangarker) het vir Tazne gesê sy moet die “bompie” opdrink en dat hy (Pangarker) daarna saam met haar daar weggeloop het.

Hy ontken dit alles in die oproep en vra sy suster: “Wat moet ek met die kind maak?”

Sy suster vra hom herhaaldelik in die gesprek om vir haar te sê waar hy is, maar hy antwoord haar nie. Op ’n keer sê hy net dat hy ver weg is.

Sy sê ook vir hom die polisie het haar huis en die van ander mense verskeie kere deursoek en sy wil net weet waar hy is sodat sy met ’n geruste hart kan slaap.

“Ek sal jou nie verraai nie. Ek is dan jou suster. Jy weet watter bond ons het,” sê Nasma dan vir hom.

Nog steeds antwoord hy haar nie.

Tazne van Wyk (8) Foto: Verskaf

Sy sê ook vir hom as hy nie die kind het nie moet hy dit asseblief net vir die polisie sê, want die gemeenskap waar hulle bly gluur hulle aan en maak opmerkings soos: “Ja, dis Pangarker se familie.”

Nadat sy suster vir hom sê mense het hom saam met Tazne naby Parow se taxistaanplek sien stap en hom by die Hoërskool St. Andrews in Connaught Estate gaan soek en amper die skool afgebreek in die proses, vra hy haar wat dink sy sal die polisie en die gemeenskap met hom doen as hulle hom in die hande kry.

Nasma antwoord dan: “Dit is hoekom jy moet kom en kom sê dat jy haar nie gevat het nie.”

Pangarker is Maandag kort ná 22:00 by die Victoria Manor-hotel in Cradock deur Wes-Kaapse speurders verbonde aan die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) in hegtenis geneem.

Hy het Dinsdag in die landdroshof in Cradock op ’n aanklag van ontvoering in ’n onverwante saak verskyn.

Soos vroeër berig is ’n lasbrief in Februarie 2019 vir Pangarker uitgereik nadat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het. Pangarker moes op 6 Februarie vanjaar in die landdroshof in Worcester verskyn, maar het nooit by die hof opgedaag nie.

Ná sy hofverskyning Dinsdag in Cradock is hy Woensdag deur die loop van die dag na die Wes-Kaap gebring. Hy het Woensdagaand die plek in Worcester aan die polisie uitgewys waar hy Tazne se lyk in ’n stormwaterdrein verberg het.

Hy verskyn na verwagting Vrydag in die landdroshof in Goodwood op aanklag van ontvoering en moord.

Nog klagte kan teen hom gebring word, sê kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder.

Volgens die polisie is beraders na Tazne se ouers, Carmen van Wyk (28) en Terrence Manuel (31), gestuur. Inwoners het Donderdagoggend by die huis bymekaar gekom nadat die tragiese nuus bekend geword het.

Inwoners van Connaught Estate in Elsiesrivier het Donderdag voor die huis van Tazne van Wyk se ouers bymekaar gekom nadat die nuus bekend geword het dat haar lyk gekry is. Foto: Jaco Marais
’n Banier wat inwoners naby Tazne se huis opgesit het.Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Moyhdine Pangarker  |  Worcester  |  Kaapstad  |  Misdaad  |  Tazne Van Wyk  |  Moord  |  Vermis  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.