Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lutzville in rou ná moord op bekende boer

Die gemeenskap van die Weskusdorp Lutzville is in rou gedompel nadat die bebloede lyk van ’n bekende wingerd-en-boontjieboer buite sy huis op sy plaas gevind is.

Jaco Louw Foto: Twitter / Ian Cameron

’n Plaaswerker het Sondagoggend op Jaco Louw (57) se lyk afgekom.

Die polisie was ure op die toneel om leidrade te soek, maar teen Sondagaand is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek ’n saak van moord.

Louw se familie, wat in Namibië woon, het Sondag inderhaas na Lutzville gery.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê Louw het verskeie steekwonde oor sy lyf opgedoen.

“Hy het glo alleen op die plaas buite die dorp gebly. So ’n wrede moord is ongewoon in die Lutzville-area. Sulke voorvalle kom meestal nader aan die Paarl en Kaapstad voor.

“Geen plaasmoord is nog vanjaar in die gebied aangemeld nie. Enkele moorde het voorheen voorgekom,” het Cameron gesê.

Alan Winde, Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid, het sy medelye met Louw se familie en vriende uitgespreek.

Foto: Twitter/Ian Cameron

Winde sê misdaad in die provinsie ruk handuit. Elke dag word 10 moorde en 10 sake van poging tot moord aangemeld.

“Plattelandse gebiede is sagter teikens. Hoewel daar goeie plaas- en buurtwagte is, is dit moeilik om die gebiede te polisieer.”

Winde sê sonder noodsaaklike polisiehulpbronne en ’n goeie polisiëringsplan sal misdaad nie hokgeslaan kan word nie.

“Die vraag op almal se lippe is hoe ons as provinsie die Wes-Kaap veiliger gaan maak. Ons wil die polisie desentraliseer sodat die polisie onder die provinsie se mag val en hulpbronne na die regte gebiede gestuur word.”

Billy Claasen, uitvoerende hoof van die Rural and Farmworkers Development Organisation, het die aanval veroordeel en dit as barbaars beskryf.

“Die polisie was laat nog besig op die toneel. Hulle moet geen steen onaangeraak laat in die soektog na die skuldiges nie. Ons innige meegevoel gaan uit na die familie.”

Claasen het ’n beroep op die polisie en howe gedoen om hul werk deeglik te doen sodat hierdie soort aanvalle in die landbousektor onmiddellik hokgeslaan kan word.

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die tempo waarteen misdaad toeneem, is kommerwekkend. “Boere en plaaswerkers word al hoe meer uitgelewer aan misdadigers. Ons het al verskeie kere met die polisie oor die kwessie gepraat.”

Hy sê die hele landbougemeenskap moet saamstaan en waaksaam wees teen swerwers en mense wat vreemd optree.

Volgens Opperman speel die onsekerheid rondom grondonteiening sonder vergoeding ook ’n rol in die frekwensie van hierdie aanvalle.

“Ons hou mnr. Louw se familie in ons gebede tydens hierdie moeilike tyd,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek, in ’n verklaring.

Volgens Van Zyl was Louw ’n lid van AfriForum se plaaswag in Lutzville.

Die polisie vra dat enigeen met inligting oor die voorval die polisie op Lutzville by 027 217 4000 moet bel, of Stop Misdaad by 08600 10 111.

Meer oor:  Jaco Louw  |  Lutzville  |  Weskus-Boer  |  Boer Vermoor  |  Mesaanval  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.