Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lyk in Vaal: Is vrou in gastehuis vermoor?

Waarskuwing: Van die foto's kan lesers ontstel.

“Lief julle almal, sien binnekort.”

Dit was een van die laaste boodskappe wat Yolandi Botes (35) op haar familie se WhatsApp-groep geplaas het.

Enkele dae later is haar liggaamsdele in die Vaalrivier gevind.

Netwerk24 verneem betroubaar die moontlikheid word ondersoek dat Botes in ’n gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe vermoor is.

Sy het op 26 April van George na Johannesburg gevlieg om haar drie dogters uit ’n vorige huwelik te besoek, is vroeër berig. Die laaste keer dat glo sy lewend gesien is, was toe sy uit die lughawe gestap en in ’n motor geklim het.

Dele van haar lyk is Dinsdag naby die Vaal-vakansieoord by Villiers opgemerk deur ’n pa en seun wat daar gehengel het.

Sy is uitgeken aan ’n tatoeëermerk en die polisie ondersoek nou ’n saak van moord.

Yolandi Botes (35), ’n ma van drie, is vermoor. Dele van haar lyk is in die Vaalrivier aangetref. Foto: Facebook / Melinda Oosthuizen

Is dit mensbloed?

Die dag voordat haar liggaamsdele gevind is, het die polisie afgekom op wat lyk na ’n bebloede kamer in ’n bekende gastehuis naby die lughawe.

’n Persoon wat na aan die ondersoek was toe daar nog na Botes gesoek is, sê die moontlikheid word ondersoek dat sy in die gastehuis vermoor is. Volgens die bron is die ondersoek aan ’n provinsiale span oorhandig.

Ao. Elsie Barnard, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Netwerk24 gesê die polisie kan nog nie bevestig of ontken dat die ondersoek na Botes se moord verbind kan word met die ondersoek in die gastehuis nie.

Volgens haar het ’n forensiese span twee dae lank bewysstukke in die gastehuis versamel. Die polisie wag nou vir DNS-verslae voordat hulle verder oor die saak sal uitwei. Op die vraag of die bloed in die kamer mensbloed is, het Barnard gesê die toetsuitslae is nog nie ontvang nie.

Sers. Dipuo Ditshego, woordvoerder van die Kempton Park-polisie, het vroeër aan die Kempton Express gesê toe die polisie daar opdaag, het hulle eers die eienaar ontmoet voordat hulle na die kamer is.

’n Mens se kop wil nie verstaan nie. Die dinge wat deur ’n mens se kop gaan – hoe sy dalk moes smeek en soebat en huil en daar was niemand om haar te help nie . . .

“Hulle het baie bloed gekry, maar niemand in die kamer nie.”

’n Ander bron wat Maandag by die gastehuis was, sê die bloed was al droog toe die polisie daar opdaag.

’n Mes is onder ’n matras gevind, en daar was bloed op die kamervloer, die bed en ook op ’n stoel wat in die stort gestaan het. Hier en daar kon voetspore en ook ’n handpalm uitgemaak word. Verder was daar ’n swart plastieksak en ’n bloedbesmeerde kombers.

Die eienaar van die gastehuis, wat verkies om anoniem te bly, sê daar is geen teken van gedwonge toegang tot die kamer nie.

’n Man wat onbekend is aan die eienaar, het op Saterdag 1 Mei in die kamer ingeboek. Hy het kontant betaal en die gastehuis Dinsdag omstreeks 06:00 verlaat.

Beeldmateriaal van die gastehuis se veiligheidskameras wys hoe die gas “sonder enige merkbare beserings” die gastehuis verlaat. Die sak wat die man by hom gehad het, was nie eens “groot genoeg om ’n hoender in te pas nie”, aldus die eienaar.

Geregtigheid vir Yolandi

Mariska Oosthuizen, ’n suster van Botes, het onverpoos na haar suster gesoek.

“Ons het haar die Dinsdagoggend (27 April) as vermis aangemeld en teen die middag kon ek nie meer stilsit nie. Ek en my jonger sussie is toe lughawe toe, en het self gaan soek na antwoorde,” sê Oosthuizen.

Niks kon hulle voorberei op die nuus van haar dood nie.

“Ek sal nooit my ma se gille en gehuil vergeet nie. Dit sal my altyd bybly . . . en dan nog om te hoor hoe haar lyk gekry is . . . nee, geen ma verdien om dit te hoor nie,” het Oosthuizen Sondag in ’n WhatsApp-boodskap aan Netwerk24 gesê.

Botes het “geleef vir haar kinders en haar familie” sy was “dierbaar en altyd besorg oor ander”.

“Sy het altyd almal bederf. My kinders was so lief vir hul tannie Landi. Ons lewe is leeg sonder haar,” sê Oosthuizen.

Haar suster was ’n onafhanklike mens wat ander mense nie onnodig wou verontrief nie, maar Oosthuizen wou niks daarvan hoor dat sy met haar besoek in ’n gastehuis woon nie.

Hulle het baie bloed gekry, maar niemand in die kamer nie.

“Ek het nog vir haar gesê daar is nie ’n manier dat sy weer in ’n lodge oorslaap nie . . . sy slaap by ons. Sy sou een aand by haar dogters geslaap het en een of twee aande by ons,” sê Oosthuizen.

Die polisie het nog nie aan haar gesê waar presies haar suster vermoor is nie.

“ ’n Mens se kop wil nie verstaan nie. Die dinge wat deur ’n mens se kop gaan – hoe sy dalk moes smeek en soebat en huil en daar was niemand om haar te help nie . . .”

Oosthuizen het ’n beroep om die publiek gedoen om Botes se stem te wees en druk op die polisie te plaas sodat geregtigheid geskied.

“Sy mag nie net so verniel geword het en niemand boet daarvoor nie,” sê Oosthuizen.

Geen begrafnisreëlings is al getref nie.

Foto’s wat Maandag geneem is in ’n gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park. Foto: Heleen Rossouw / Kempton Express
Die polisie se forensiese ondersoekspan was twee dae lank op die toneel om bewysstukke in te samel nadat ’n gastehuiskamer Maandag in dié toestand aangetref is. Foto: Heleen Rossouw / Kempton Express
Die mes, wat glo uit die gastehuis se kombuis kom, is onder ’n matras ontdek. Voetspore is op die vloer sigbaar. Foto: Verskaf
Die toestand waarin die stort gevind is. Foto: Heleen Rossouw / Kempton Express
Die polisie probeer vasstel wat presies in dié gastehuiskamer gebeur het. Foto: Heleen Rossouw / Kempton Express
Meer oor:  Yolandi Botes  |  Johannesburg  |  O.R. Tambo-Lughawe  |  Vaalrivier  |  Gastehuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.