Speurders het Maandagoggend op ’n stuk veld langs Kanferoliestraat in Delft op die lyk van ’n pasgebore babameisie afgekom.
Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie is omstreeks 07:30 na die toneel ontbied, waar speurders van die plaaslike polisiekantoor die lykie onder ’n boom aangetref het. Dit was met ’n bruin baadjie bedek.
’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal,” het Van Wyk gesê.
Volgens hom het die polisie ’n geregtelike nadoodse ondersoek geloods.
“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Die polisie is steeds op soek na die baba se ma.”
Mense met inligting word gevra om die polisie in Delft te kontak.