Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lyke langs pad: Dobbelplek kos man glo sy lewe

’n Man van Gqeberha se werk by ’n dobbelplek het hom volgens gerugte moontlik sy lewe gekos.

Die lyk van Zola Michael Mahlanyana (59), wat by ’n dobbelplek in die stad gewerk het, is Maandag saam met dié van sy vriendin, Ntombizodwa Booi (46), in bosse langs ’n pad by Swartkops gevind.

Die paartjie van New Brighton was sedert 28 April vermis. ’n Verbygaande vragmotorbestuurder het die lyke opgemerk, het Netwerk24 vroeër berig. 

Zola Michael Mahlanyana. Foto: Facebook, Nqaba Bhanga

Mahlanyana het glo skietwonde opgedoen. ’n Lykskouing is Woensdag uitgevoer, waarna die amptelike oorsaak van sy dood bekend gemaak sal word. Booi se lykskouing sal Donderdag uitgevoer word.

Mahlanyana se suster, Nomsa, het Woensdag aan Netwerk24 gesê sy is bewus van gerugte dat haar broer se werk by die casino moontlik tot sy dood gelei het, maar is onseker of dit wel die geval was.

Luidens gerugte is Mahlanyana en Booi ontvoer deur mense wat glo vertroulike inligting wou bekom oor die bedrywighede by die casino, met die oog op ’n beplande rooftog.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die polisie beskik egter nie oor dié inligting nie en die motief vir die dubbele moord is nog onbekend.

Viwe Magengelele (24), Mahlanyana se jongste seun, sê hy is ook onseker wat tot sy pa se moord gelei het, maar meen hy het nie verdien om op so ’n manier te sterf nie.

“Hy was ’n goeie mens, wat daarvan gehou het om ander mense te help. Hy is te vroeg weg,” sê hy.

Ntombizodwa Booi. Foto: Facebook, Nqaba Bhanga

Magengelele, wat saam met sy ma in Qonce (King William’s Town) grootgeword het, sê hy het sy pa min gesien, maar hulle het ’n goeie verhouding gehad.

Sy eerste kind is onlangs gebore en Mahlanyana sou die baba binnekort ontmoet het. “Ek sal nou nooit die geleentheid kry om my pa en seun saam te sien nie. Dit was nie my pa se tyd nie.”

Hy is ook skepties daaroor dat die polisie binnekort ’n deurbraak in hul ondersoek na die moord sal maak. “Ek het nie vertroue in ons regstelsel nie. Dit gaan ’n uitgerekte storie wees en niemand gaan gevang word vir die moord nie,” sê hy uit ervarings van ander mense wat volgens hom nog op geregtigheid vir geliefdes wag.

Naidu het in reaksie gesê die ondersoek is nog in die beginfase, met verskeie onderhoude wat nog gevoer word.

“Ons volg alle leidrade op en enigeen wat moontlike inligting oor die moorde het, kan die polisie daaroor kontak en dit sal opgevolg geword.”

Booi se familie wou nie Woensdag kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Gqeberha (Port Elizabeth)  |  Lyke  |  Gerugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.