
Chantelle en Tasneem Ash. Foto: Facebook/ChantelleAsh
’n Babameisie wat verlede week in ’n kamer by ’n verlate lodge buite Mahwelereng naby Mokopane in Limpopo verwurg is, sou Sondag nege maande oud gewees het.
Tasneem Ash se lyk is Donderdag naby haar ma, Chantelle Ash (20), se lyk in ’n kamer van die Maponya Lodge in die Masodi-nedersetting op die R518 tussen Mokopane en Marken gevind.
Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê voorlopige inligting dui daarop dat die ma en haar dogter verwurg is.
Chantelle en Tasneem se arms was agter hul rug vasgebind. Daar was glo wurgmerke aan hul nek.
Chantelle se ma, Annie, wat in Pretoria woon, is verpletter. Sy het op Facebook geskryf dat haar dogter en kleindogter “helder liggies in die wêreld was”.
"Hulle het so baie mens se lewe aangeraak en ons mis hulle ontsettend baie."

Tasneem Ash was agt maande oud toe sy verlede week in Limpopo vermoor is. Foto: Facebook/ChantelleAsh

Chantelle Ash (20) en haar dogter, Tasneem, is verlede week buite Mokopane vermoor. Foto: Facebook/ChantelleAsh
Annie moes Saterdag haar dogter en kleindogter se lyke in Mokopane gaan uitken. Sy is erg getraumatiseerd en het Maandag navrae na Martinette Lensley, ’n niggie van Chantelle, verwys.
Lensley sê Chantelle het voor haar dood in Mokopane gewoon. Sy was werkloos.
Dit is nie duidelik wat kort voor die moorde gebeur het nie.
Ngoepe sê gesinsgeweld word as ’n moontlike oorsaak van die moorde ondersoek.
Hy sê ’n man, wat vermoedelik bekend was aan Ash, het Dinsdag omstreeks 19:00 by die Maponya-lodge aangekom. Die man, Ash en haar baba is glo met ’n grys motor by die ingang van die lodge afgelaai.
Volgens Ngoepe het die paartjie ’n kamer vir Dinsdagaand gehuur en wou glo nie enige persoonlike inligting aan die ontvangsdame gee nie.
“Die man het gesê hulle sal die volgende dag (verlede Woensdag) vertrek.”
Werknemers by die lodge het Woensdag geen beweging buite of naby die kamer wat gehuur is gesien nie, en het aangeneem dat die mense weg is.
’n Werker het Donderdag na die kamer gegaan om dit skoon te maak en het toe op die ma en baba se lyke, wat reeds begin ontbind het, afgekom.
“Die vrou was erg geskok en het onmiddellik die polisie gebel. Daar was geen teken van die man nie,” sê Ngoepe.

Die kamer by 'n lodge buite Mokopane waar 'n ma en haar baba vermoor is. Foto: SAPD

Tasneem Ash was agt maande oud toe sy verlede week buite Mokopane vermoor is. Foto: Facebook/AnnieAsh
Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, het die moorde sterk veroordeel en opdrag gegee vir ’n omvattende ondersoek na die moordenaar/s.
Die polisie het ’n man wat ’n burger van Bangladesj is geïdentifiseer om hulle moontlik te help in die ondersoek na die moorde.
Die man se foto is sedert die moorde op Chantelle en Tasneem wyd op sosiale media gedeel.
Familie en vriende van Chantelle is besig om geld in te samel vir hul begrafnis.
Enigiemand met inligting kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 bel.

Die polisie in Limpopo soek na hierdie man van Bangladesj wat moontlik met 'n moordondersoek kan help. Foto: SAPD