Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma, dogter (8) kry berading ná kitsbank-relletjie

’n Ma en dogter van Bloemfontein kry berading nadat die vrou voor haar dogter by ’n kitsbank in ’n winkelsentrum in Fleurdal deur ’n ander vrou aangerand is.

Jacky Els (38), ’n administrateur, sê sy en haar agtjarige dogter kry behandeling by hul kerk om te verhoed “dat hulle nou mense haat”.

Dit kom nadat Els verlede maand by ’n Capitec-Bank in die winkelsentrum in Fleurdal gevloek en aangerand is omdat sy ’n vrou “wat nie die kitsbank gebruik het nie” gevra het om ander mense ook kans te gee.

Ná die voorval het dié vrou ook ’n klag teen Els ingedien.

Els moes Maandag in die Bloemfonteinse hof verskyn, maar die polisie het nooit haar dossier na die hof gebring nie en sy is laat gaan.

’n Senior aanklaer het gesê hulle gaan haar bel wanneer die dossier by die hof is.

Els se aanrandingsklag teen die ander vrou gaan egter voort.

Konst. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n klag van aanranding word ondersoek. Volgens haar is die vermeende aanvaller aangekeer. Sy kon egter nie verdere besonderhede verskaf nie.

My dogter, wat saam met my was, het histeries geraak. Die vrou het weggeloop en ek het agter haar aangeloop omdat ek nie wou hê sy moet wegkom nie
Jacky Els

Volgens Els was twee vroue by die kitsbank doenig toe sy omstreeks 15:00 daar opdaag. Die kitsbank het glo aanhoudend die vroue se transaksie geweier, waarna die vrou gesê het die kitsbank het nie geld nie.

Els sê sy het vir die vrou gesê indien dit die geval was, sou die masjien nie gewerk het nie. Ander mense wat voor haar in die ry gestaan het, het geloop.

“Nadat die ander mense geloop het, was ek tweede in die ry. Ek het gesien die vrou het nie ’n transaksie uitgevoer nie en het met haar hande gevou gestaan.

“Sy het geen kaart in haar hand gehad nie en daar was geen kaart in die masjien nie. Ek het vir haar gevra om ander mense ’n kans te gee om die masjien te gebruik. Sy wou nie en ek het ’n veiligheidswag gaan haal om haar te verwyder,” sê Els.

Volgens Els het die vrou gesê sy moet gaan geld trek, waarna sy langs haar (Els) kom staan en haar vinger in haar gesig gedruk het. Die vrou het haar toe geskop en deur die gesig geklap.

“My dogter, wat saam met my was, het histeries geraak. Die vrou het weggeloop en ek het agter haar aangeloop omdat ek nie wou hê sy moet wegkom nie.

“Ek het die polisie gebel, maar hulle het nie dadelik gereageer nie. Ek het toe die AfriForum-buurtwaglede gebel en hulle was baie vinnig daar. Hulle het gesê ek moet polisiekantoor toe gaan.”

Meer oor:  Capitec  |  Kitsbank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.