Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma, dogter veg verbete teen rowers in Pta-reservaat
Taschia Slabbert wys die snymerk waar die mes haar slagaar net-net gemis het. Foto: Facebook

Een van die rowers wat ’n ma en dogter by die Groenkloof-natuurreservaat in Pretoria aangeval het, is nog soek, maar Taschia Slabbert glo sy het hom so hard tussen die bene geskop dat “hy ’n hele ruk lank nié ’n ander vrou se broek gaan probeer aftrek nie”.

“Ek en my ma glo hulle wou ons verkrag en vermoor. Daarom het ons so verbete terugbaklei,” sê die 25-jarige onderwyseres en deeltydse fotograaf van Kemptonpark.

Taschia het ’n snywond aan haar keel tydens die struweling opgedoen. Volgens die dokter het dit haar slagaar net-net gemis.

Haar ma, Melissa (48), het ook verskeie steek- en snywonde opgedoen.

“Ons het Saterdagoggend spesiaal Pretoria toe gekom sodat ek in die Groenkloof-reservaat foto’s met my kamera en lense van R33 000 vir ’n kompetisie kan neem,” sê Slabbert.

Hulle het sowat 2 km op die grondpaadjie geloop toe haar ma sê sy dink hulle word agtervolg.

“Ons het voetstappe gehoor. Ek en my ma het gelyk omgekyk. Twee mans het op ons afgestorm”.

Die twee het die ma en dogter grond toe geduik.

Elkeen het ’n mes gehad.

“In daardie stadium was my kop blank. Maar toe ek oor die skok kom, was ek woedend. Ek het gedink dat hulle nié my kosbare kamera sonder ’n fight gaan kry nie.”

Die kamera was om Slabbert se nek. Sy het vroeër lense geruil en een by haar bra ingedruk. Die aanvaller het presies geweet dit is daar en sy hand by haar klere inforseer.

Hy het haar kamera van haar nek afgepluk.

Melissa Slabbert (48) van Kemptonpark se regterhand het erg gebloei soos wat sy die messteke probeer afweer het. Foto: Facebook
Die dokter het gesê die messteke wat Melissa Slabbert (48) onder meer op haar kop en aan haar arm opgedoen het, was om die meeste moontlike skade aan te rig. Foto: Facebook

In die geveg het die aanvallers ook die vroue se skoene van hul voete afgetrek om ontsnapping te bemoeilik.

“Die een het my ma aanhou steek en steek. Op haar kop, haar arm. Die man wat my aangeval het, het wydsbeen oor my gestaan en in ’n stadium my broek probeer aftrek.

“Ek het hom voluit tussen die bene geskop. Hy kon my eerder doodmaak as om my te verkrag,” sê Slabbert.

Na dié volstruisskop kon sy opvlieg.

Sy het haar rugsak vir hom gee.

“Ek het hom vol in die oë gekyk en gesê: ‘You better f**k-off or I’m going to kill you’. My ma het verskriklik gebloei. Ek was woedend.”

Die mans het begin wegbeweeg en die vroue het bloeiend op hul kouse oor die klippe en bosse gehardloop.

Fietsryers het hul gille gehoor en kom help.

Op die parkeerterrein het iemand reeds ’n Tshwane-metropolisielid voorgekeer wat kom help het.

Intussen het ’n veiligheidswag ook die bosse ingevaar. Hy het, self stukkend gesteek, met een van die aanvallers en Slabbert se motorsleutel en foon teruggekeer.

Die twee vroue is later ingelig dat nog ’n man gevang is.

Hy het vermoedelik brandwag vir sy twee makkers tydens die aanval gestaan.

Die vroue is hospitaal toe waar hulle steke en antiretrovirale medikasie as voorsorgmaatreël gekry het.

“Ons weet nie hoe skoon daardie messe was nie,” het Slabbert verduidelik.

Hulle is maar nog emosioneel broos en het intussen berading gekry, sê Slabbert.

Snr. supt. Isaac Mahamba van die Tshwane-metropolisie het bevestig dat dit die soveelste aanval in die reservaat is waarvan hulle hoor.

“Ons gaan dringend saam met die Stad Tshwane kyk hoe ons die veiligheid daar kan opskerp en sal inwoners op die hoogte hou,” het hy belowe.

Meer oor:  Pretoria  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.