Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma, dogter wreed aangeval in ‘veilige’ Durbanville-buurt

Die gemeenskap van die “eens stil en veilige” woonbuurt Valmary Park in Durbanville is geruk nadat ’n inwoner en haar dogter Dinsdag helder oordag met ’n koevoet aangeval is terwyl hulle gaan stap het.

Claire Whitwam (63) en haar dogter Brigette (34) het omstreeks 14:30 met Claire en haar man se twee honde gaan stap toe twee aanvallers hulle genader het op ’n oop stuk grond tussen Legatostraat en Langebergstraat naby Sonstraalhoogte.

“Hulle het eers een van my skaaphonde met die koevoet geslaan dat die hond eenkant val,” sê Claire. “Toe het hy die ding gebruik om my oor die kop te slaan. Ek het dit nie eens sien kom nie.

“Hulle het toe my dogter probeer slaan en sy het met haar een hand probeer keer. Die hou het haar in die gesig getref en ’n tweede hou het drie van haar vingers gebreek. Een van die mans sê toe vir die ander, ‘haal die mes uit, dit sal hulle bang maak’.”

Volgens Claire het hulle aanhou sê “gee vir ons julle goed”.

“Die tweede aanvaller het toe vir Brigette in die bors gesteek. Sy het vreeslik gebloei.”

Ons lewens is in gevaar. Dis ’n nagmerrie dat sulke gewelddadige misdadigers in ons strate rondloop. Dit is asof ons ’n oorlog voer in ’n tyd van vrede.
Daniel Pascal

Een van die mans het Claire se trouring van haar vinger probeer aftrek. Volgens haar het sy die ring al vir 38 jaar, sedert haar troudag, aan haar vinger.

Die wond aan Claire Whitwam se kop ná die aanval.

“Dit wou nie afkom nie en hy het aanhoudend daarmee gestoei. My artritis laat my kneukels swel. Hy sê toe vir die ander man, ‘gee die mes, ek sny haar vinger af’. Gelukkig het my ring op daardie oomblik afgekom.”

Die twee vroue het aanhou skree en ’n vrou by ’n nabygeleë huis het oor die muur geloer. Toe sy sien wat gebeur, het sy hulp ontbied.

Volgens George Conradie, hoof van Halt Sekuriteit wat in die area werk, het sy veiligheidswagte vinnig op die toneel aangekom en die twee mans agternagesit. Hulle het een van die twee naby Brackenfell-boulevard vasgetrek. Die ander een het weggekom.

Die polisie het die man in hegtenis geneem. ’n Saak van gewapende roof word ondersoek, sê Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder.

“Ek het ’n gat van 7 cm lank in my kop opgedoen wat steke moes kry,” sê Claire. “Ek moes ook tandarts toe vir drie gebreekte tande. Ons is Woensdag na ’n ortopediese chirurg vir die beserings aan my dogter se hande,” sê sy.

“Ons is almal ’n bietjie getraumatiseerd, maar sal aangaan en steeds aanhou baklei. Hulle het my trouring gesteel, ’n dun silwer ketting met ’n piepklein silwer kruis daaraan, en my fiksheidshorlosie. Ek het eers heelwat later agtergekom die horlosie is ook weg.”Claire sê sy is baie dankbaar vir die beamptes van Halt Sekuriteit en sê sy is verheug dat die beamptes een van die aanvallers gevang het.

hand
Brigette se hande toegedraai in verbande na die aanval. Sy het haar een hand gebreek en verskeie vingers aan die ander hand.

Sy waarsku mense in die omgewing om op hul hoede te wees vir soortgelyke aanvalle.

Daniele Pascal, ook ’n inwoner van Valmary Park, sê die voorval het talle inwoners ontstel en ouers laat skrik.

“Beteken dit nou dat niemand meer hul kinders by die skool kan gaan haal in die middae nie? Mens kan al klaar nie in die aand gaan stap nie, maar nou raak dit onveilig in die dag ook,” sê sy.

“Ons lewens is in gevaar. Dis ’n nagmerrie dat sulke gewelddadige misdadigers in ons strate rondloop. Dit is asof ons ’n oorlog voer in ’n tyd van vrede.”

Conradie sê die arrogansie van die oortreders en hul disrespek vir ander mense is kommerwekkend. “Soos op baie plekke is hier haweloses wat in die omgewing rondloop, en mens het natuurlik simpatie met hulle. Maar gevaarlike misdadigers kan hulself maklik voordoen as haweloses en ons kan hulle nie van mekaar uitken nie,” sê hy.

Meer oor:  Claire Whitwam  |  Durbanville  |  Koevoet  |  Aanval  |  Ma  |  Dogter  |  Stappers Aangeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.