’n Ma (50) en seun (20) van Brits is aan ’n boom vasgebind toe rowers vroeg Saterdagoggend op hul huis toegeslaan het.
Kol. Adèle Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het bevestig dat die seun by sy ma gekuier het by haar huis op ’n hoewe en om 01:50 wakker gemaak is toe inbrekers met messe toegang tot die huis verkry het.
Die seun is na bewering met ’n stok oor die rug geslaan en het geringe beserings opgedoen.
Albei se hande en voete is vasgebind en hulle is later aan ’n boom buite die huis vasgebind, sê Myburgh.
Die seun het homself mettertyd losgewikkel en sy ma bevry, waarna hulle na hul bure se huis is en die polisie ontbied het.
Die groep onbekende mans het met ’n gasstoof, elektriese ware, selfone en juwele gevlug.
Myburgh het vroegmiddag bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.