Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma probeer glo 1-jarige keelaf sny

’n Jaar oue seun is Woensdagoggend glo buite Groblersdal in Limpopo byna deur sy ma keelaf gesny.

’n Oudpolisielid en paramedikus van Groblersdal sê hy was geskok toe ’n veiligheidswag hom omstreeks 03:00 bel en om hulp vra.

Die veiligheidswag beveilig die plaas waarop die oudpolisieman, wat nie genoem wil word nie, werk.

“Hy het my gebel, want hy het ’n kind buite die plaas hoor skreeu en toe afgekom op die grusame toneel. ‘Kom help, hier is ’n vrou wat ’n kind keelaf probeer sny’, het hy vir my gesê.”

Die man, wat 21 jaar in die polisie was, het na die plek langs die N11 buite Groblersdal gegaan waar hy afgekom het op die seun wat in lang gras lê. Sy T-hemp was deurdrenk van die bloed en daar was ’n baie diep sny aan sy keel.

“Daar is deur sy stembande gesny. Die mes met ’n lem van 25 cm het langs die kind gelê. Ek het gedink hy is dood.”

Die man sê die seun het gelukkig ’n polsslag gehad. Sy ma het naby hom gesit. “Sy het geen emosie getoon nie.”

Hy het die provinsiale ambulansdiens gebel, maar niemand het die noodnommer geantwoord nie en hy het toe ’n private ambulansdiens ontbied.

Hy het die Groblersdal-polisiekantoor gebel en moes glo hoor dat daar nie ’n vangwa is wat na die toneel uitgestuur kon word nie.

“Nou wat kan meer ernstig wees as ’n kind wat glo amper deur sy ma vermoor is?” wou die man weet.

Die ambulansdiens het die seun en sy agtjarige broer, wat ongedeerd is, na ’n hospitaal in Groblersdal gevat.

“Die polisieman het vir my gesê die kinders moet nadat hulle by die hospitaal was self ’n klag by die polisiekantoor aanhangig maak. ”

Die man is ontstoke oor die polisie se optrede, “want pres. Cyril Ramaphosa het geweld teen vroue en kinders tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar. Watter diens kan ons by die Groblersdal-polisiekantoor kry as daar so ongeërg opgetree word wanneer ’n kind amper vermoor is?”

Danksy oudkollegas van die man in die polisie het ’n speurder meer as ’n uur later by die toneel opgedaag.

“Hy het die vrou in die vangwa laat klim. Hy het eers nie die mes as bewysstuk saamgevat nie. Ek het hom daarop gewys en toe het hy my gevra of ek vir hom handskoene het om die mes op te tel.”

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig die vrou is weens poging tot moord in hegtenis geneem.

“Die vrou wou glo haar eenjarige seun met ’n mes vermoor. Die polisie het op die mes beslag gelê.”

Mojapelo het nie gereageer op navrae oor bewerings deur die oudpolisielid dat die polisie eers glo nie ’n vangwa gehad om uit te stuur nie, toe glo gesê het die kinders moet self ’n klag by die polisiekantoor aanhangig maak en daarna glo nie handskoene gehad het om die bebloede mes as bewysstuk saam te vat nie.

Hy het wel gesê hulle sal die aantygings ondersoek.

• Die kinders is in die provinsiale hospitaal in Groblersdal.

Meer oor:  Limpopo  |  Groblersdal  |  Ma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.