Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma, seun het net winkelsak oor ná hul glo miljoene steel
Lynda Bedier en haar seun, Jayson, met hul inhegtenisneming. Agter hulle is André van Wyk van IRS Forensiese Ondersoeke. Foto: Verskaf

’n Vrou en haar seun wat maande lank op vlug was nadat hulle glo R3 768 593,41 verduister het, het met net ’n winkelsak en die klere aan hul lyf in Johannesburg opgedaag.

André van Wyk, senior ondersoeker van IRS Forensiese Ondersoeke, sê Lynda Bedier (56) is Maandag in die kleedkamers van die Karaglen-winkelsentrum in Edenvale betrap en in hegtenis geneem .

IRS het ’n anonieme wenk ontvang dat Bedier en haar seun, Jayson John Brady (21), iemand by die winkelsentrum gaan ontmoet en het hulle daar ingewag.

Die twee is kort daarna met die hulp van die polisie in hegtenis geneem.

Hulle het Woensdag vlugtig in die landdroshof in Germiston verskyn en bly in aanhouding tot 19 Oktober, wanneer hulle om borgtog kan aansoek doen.

Die staat sal die aansoek na verwagting teenstaan, aangesien Bedier ook Britse burgerskap en ’n misdaadgeskiedenis het.

Sy het in ’n stadium twee jaar van ’n sewe jaar lange vonnis vir bedrog in Port Elizabeth uitgedien.

IRS Forensiese Ondersoeke is betrek toe Bedier, ’n finansiële bestuurder by ’n Duitse maatskappy in Johannesburg, se bestuurder op verdagte transaksies ter waarde van ’n paar miljoen rand afgekom en dit bevraagteken het.

Kort hierna het Bedier na bewering nog meer as R1,6 miljoen uit die maatskappy se rekening na haar seun se rekening oorbetaal en saam met hom op die vlug geslaan.

Bedier het na bewering die opsporingstoestel uit haar voertuig laat verwyder en vir ’n tydperk voorgegee sy is siek voordat haar maatskappy-selfoon permanent afgeskakel is.

Sy het na bewering ook met die maatskappy se skootrekenaar verdwyn.

IRS Forensiese Ondersoeke het in Junie beeldmateriaal en foto’s bekom van die ma en seun waar hulle in Port Elizabeth opgemerk is.

“Haar seun het heeltyd vir haar werkgewer gesê sy is baie siek, maar ek vermoed die twee was toe reeds op pad Port Elizabeth toe. Ek dink hulle het die ding fyn beplan,” sê Van Wyk.

Iemand wat beeldmateriaal van haar gesien het, het haar gevra of hy haar dalk van Johannesburg af ken. Sy en haar seun het binne ’n uur uit die gastehuis geboek.

Volgens Van Wyk het Bedier in Port Elizabeth onder die skuilnaam Sally Brady by die Beachwalk-gastehuis ingeboek.

“Iemand wat beeldmateriaal van haar gesien het, het haar gevra of hy haar dalk van Johannesburg af ken. Sy en haar seun het binne ’n uur uit die gastehuis geboek,” sê Van Wyk.

Bedier en Brady het Saterdagaand laat met ’n bus Johannesburg toe gekom, albei glo sonder ’n sent op hul naam. Brady se rekening, wat na bewering vir die bedrog gebruik is, is intussen bevries maar daar is glo net meer as ’n miljoen rand in die rekening oor.

Waar die res van die geld heen is, sal die hof moet uitpluis.


Meer oor:  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.