Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma sterf in kruisvuur in nagklub op Stellenbosch

“My vrou, my vrou!” het André Muller hartverskeurend geskree toe hy gisteroggend by die Cubaña-restaurant op Stellenbosch aankom waar sy vrou kort ná middernag in die kruisvuur van vermeende bendelede gesterf het.

Nicole en André Muller. Foto: Facebook

Omstanders moes die jong pa met alle mag terughou toe hy na sy vrou se lyk gebeur het. Die 30-jarige Nicole is in die kop geskiet.

Die egpaar van Soneike, Kuilsrivier, het twee seuns van onderskeidelik vyf en drie jaar oud.

Nicole was saam met vriendinne by Cubaña om ’n vriendin se 30ste verjaardag te vier. Hulle was net op pad om die restaurant te verlaat toe ’n verskrikte man die vertrek binne gehardloop het, gevolg deur twee gewapende mans. Onder luide gille is verskeie skote afgevuur, terwyl die gaste wegkruipplek gesoek het.

Die man wat gevlug het, is in die kleedkamers doodgeskiet.

Die Cubaña-nagklub. Foto: Julian Jansen

Hy was van Delft en is later as die 40-jarige Donovan Jacobs geïdentifiseer.

Nog ’n vrou is in die skietery gewond en is in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

Die drie betrokke mans was na verneem word kort tevore in ’n hewige rusie buite Cubaña, ’n gewilde kuierplek in die hartjie van Stellenbosch.

Volgens ooggetuies het die twee mans in ’n Volkswagen Golf met ’n CY-registrasienommer daar opgedaag.

Hulle het glo vir Jacobs vroeër by ’n ander kuierplek op die studentedorp gesoek.

Gister het die uitgebreide familie by Nicole se ouerhuis in Kuilsrivier vergader. André wou nie gister met die media praat nie, maar sy ma, Judy, het aan Rapport gesê hy is stukkend.

“Dis ’n verskriklike ding wat gebeur het. Ek dink veral so aan hul twee seuntjies,” het sy gesê.

Cubaña wou nie met die media praat nie.

Teen druktyd was daar nog geen inhegtenisnemings nie.

Meer oor:  Nicole Muller  |  Bendes  |  Stellenbosch-Skietery  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.