Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma van 2 beroof, doodgeskiet terwyl sy vir Uber wag

“Sy was nederig, saggeaard, dierbaar, eerlik en ’n omgee-mens.”

So sê Ashley Ruiter (31), verloofde van Lauren Dryden (31), wat vroeg Vrydagoggend beroof en toe doodgeskiet is terwyl sy vir ’n Uber-taxi gewag het om haar huis toe te neem.

Volgens Ruiter was Dryden, van Bonteheuwel, pas klaar met haar nagskof by RCL Foods in Epping, ’n nywerheidsgebied in Kaapstad, toe die voorval plaasgevind het.

“Lauren en my jongste suster, Monique, het die week nagskof gewerk. Ná hulle skof het hulle ’n Uber bestel en buite hul werksplek gaan wag.”

Ruiter sê terwyl hulle vir die Uber-taxi gewag het, het ’n man met ’n masker verby hulle gestap. Nadat hy ’n ent van hulle af was, het hy teruggekom en Dryden se tablet uit haar hande gegryp.

Lauren Dryden en haar twee kinders, Thiago (5) en Autumn (2). Foto: Facebook/Angus McKenzie
Lauren Dryden (31), wat vroeg Vrydagoggend beroof en doodgeskiet is.

“Nadat hy die tablet gegryp het, het hulle teruggehardloop na die werkperseel. Die man het ’n vuurwapen uitgepluk en op hulle begin skiet. Lauren is raakgeskiet.”

Dit is onbekend hoeveel skote die man op hulle afgevuur het. Monique is ongedeerd.

Ruiter sê sy ouer suster, Nicole, wat agterin die erf woon, het net na 06:00 ingehardloop gekom en vir sy ma van die voorval vertel.

“Ek was besig om aan te trek en reg te maak vir werk. Ek het die geskree en gehuil in my ma se kamer gehoor en het gaan luister wat fout is. Dis toe dat my suster sê dat Lauren pas geskiet is.”

Ruiter sê met hul aankoms op die toneel was Dryden reeds dood.

Ruiter en Dryden ken mekaar al 12 jaar. Hulle het verlede maand verloof geraak. Hulle het twee kinders, Thiago (5) en Autumn (2).

Ruiter sê hulle het nog niks vir die kinders gesê nie, omdat hulle nog baie jonk is, maar sal wel later die nuus met hulle moet deel.

Angus McKenzie, wyksraadslid vir Bonteheuwel, het sy medelye met Dryden se familie en vriende betuig. “Ek het vanoggend met Ashley gepraat en sal die gesin in hierdie moeilike tyd ondersteun.”

McKenzie sê Dryden het Donderdag vir Covid-19-hulpfinansering vir haar kinders aansoek gedoen. “Ek sal seker maak dat haar kinders die geld ontvang,” sê McKenzie.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ’n moordsaak is geopen.

Die omstandighede rondom die skietvoorval word ondersoek.

Meer oor:  Uber  |  Auren Braiding  |  Beroof  |  Doodgeskiet  |  Ma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.