Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma van PE voor tienerdogter doodgeskiet

’n Ma van Port Elizabeth is Donderdagaand ten aanskoue van haar tienerdogter doodgeskiet.

Nadat die 30-jarige ma drie keer raakgeskiet is, het die aanvaller ook sy wapen op haar 14-jarige dogter gerig en ’n skoot afgevuur.

Die tienermeisie het ’n skraapwond aan haar kop opgedoen.

’n Buurman van die vrou in Bushstraat, Wells Estate, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het Vrydagoggend vertel hoe die tienermeisie Donderdagaand in ’n histeriese toestand aan hul voordeur kom klop het.

“Al wat die kind oor en oor kon sê, is ‘my ma is geskiet, my ma is geskiet’, terwyl sy gehuil het en haar kop vasgehou het,” sê die buurman.

Volgens kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het die aanval omstreeks 20:00 gebeur.

’n Bondel polisielint Vrydagoggend oorkant ’n huis in Wells Estate, waar ’n ma ten aanskoue van haar tienerdogter doodgeskiet is. Foto: Lulama Zenzile

Na beweer word het die ma wakker geword weens iemand wat aan die huis se deur gepluk het.

“Toe sy gaan ondersoek instel het, het die onbekende man reeds die deur oopgedwing. Die slagoffer is sonder waarskuwing geskiet,” sê Beetge.

Volgens ’n betroubare bron is die ma in haar voorkop, regterwang en rug getref.

Die polisie se ondersoek dui daarop dat die aanvaller met leë hande gevlug het.

Volgens die buurman was die ma saam met haar tienerdogter en sesjarige seun by die huis. Haar man, ’n transito-veiligheidswag, werk glo al ’n geruime tyd lank aandskof en was nie tuis nie.

“Die meisie is hospitaal toe gevat. Sy het net ’n skraapwond opgedoen, maar sy is baie getraumatiseerd. Die seuntjie is ook veilig,” het die buurman gesê.

Nóg ’n buurman wat nie genoem wil word nie, het beweer die motief vir die aanval kan moontlik verband hou met die man se werk as ’n transito-veiligheidswag.

“Dalk wou iemand inligting vir ’n transitorooftog gehad het en dinge het verkeerd geloop,” het die man gesê.

Die slagoffer en haar gesin het glo sowat ’n jaar gelede uit New Brighton na Wells Estate verhuis juis om weg te kom van die vlaag skietvoorvalle in New Brighton.

Oor die afgelope jaar het die slagoffer ’n stil bestaan gevoer en die huis selde verlaat.

“Hul kinders het met ander kinders in die straat gespeel, maar die ma het skaars uit die huis gekom, sy het nie eens winkel toe gestap nie.”

Die buurman beweer ook die voormalige eienaar van die betrokke huis was ’n berugte misdadiger. “Dit kan wees dat iemand eintlik na die vorige eienaar op soek was en toe sommer skote afgevuur het.”

Beetge sê die polisie ondersoek tans alle moontlikhede rondom die voorval, maar sê die motief vir die aanval is onbekend.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Enigeen met inligting kan die Stop Misdaadnommer 08600 10111 bel.

*Die name van die slagoffers is aan Netwerk24 bekend, maar word weerhou om die kind se identiteit te beskerm.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.