Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma vertel hoe seuntjie byna ontvoer is

Die ma van ’n driejarige seun wat byna uit ’n winkel ontvoer is, voel effe verbouereerd wanneer die onlangse gebeure in haar kop afspeel.

Dieselfde gevoel bekruip haar wanneer sy op die dorp is of iewers heen moet ry.

Sedertdien hou die 26-jarige ma haar enigste kind met ’n valkoog dop.

“Ek kyk gereeld of my seuntjie oukei is, selfs al slaap hy,” sê sy.

Die ma en seun van Sasolburg het Vrydag omstreeks 18:00 inkopies gaan doen by ’n plaaslike supermark toe ’n vreemdeling die kleuter doodluiters optel en met hom wegloop.

’n Video van die voorval het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Die ma het op voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 gepraat en vertel sy het agtergekom dat drie onbekende vroue heeltyd saam met haar in die winkel rondbeweeg.

“In daardie stadium het ek nie te veel aandag daaraan gegee nie, want my aandag was by my en my kind.”

Die onbekende vrou in die wit hemp loop doodluiters uit ’n plaaslike supermark in Sasolburg met ’n driejarige seuntjie in haar arms. Sy het hom opgetel die oomblik toe die kind se ma haar oë van hom afhaal om vir haar kruideniersware te betaal. Foto: Skermgreep

Sowat 30 minute later het die ma in die ry gestaan om vir die enkele items te betaal.

Sy het die kruideniersware by die betaalpunt uitgepak, terwyl haar seuntjie op ’n reling langs haar gestaan en speel het.

Terselfdertyd het dieselfde vroue wat die ma ’n paar keer naby haar en haar seuntjie opgemerk het, reg agter haar in die ry gestaan en telkemale met ’n winkeltrollie aan haar gestamp.

Die ma het dit bloot geïgnoreer, maar aanvanklik gedink hulle wou haar beroof.

Sy het geen onraad vermoed toe een van die vroue agter haar by die kind gaan staan nie.

“Die oomblik toe ek afkyk om my bankkaart uit my beursie te haal, het sy my seuntjie opgetel en met hom weggeloop.

“Ek was stomgeslaan en dog eers hierdie vrou skeer die gek met my, maar sy het net aanhou loop. Ek het agter haar aangehardloop en hom by haar gegryp.”

Die ma het die vrou gevra wat sy besig is om te doen, waarop sy in Engels geantwoord het dat sy die winkel met haar kind verlaat.

“Ek het op haar geskree en toe lag sy net vir my.”

Die ma voer aan die vrou het vir die veiligheidswagte gesê dat sy net ’n grap met haar gemaak het.

Sy was verskriklik getraumatiseerd en is dadelik huis toe met haar kind.

Die ma het Maandagoggend vroeg ’n saak by die plaaslike polisie aanhangig gemaak.

Die ma van die seuntjie hardloop na die onbekende vrou wat haar driejarige seun in haar arms dra. Foto: Skermgreep

Volgens haar kennis is die vrou wat haar kind gegryp het, die volgende oggend (Dinsdag) by dieselfde supermark aangekeer.

Die polisie het vroeër bevestig dat die vrou in hegtenis geneem is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het Woensdag by navraag gesê die motief vir voorval is onbekend.

Die ma sê sy dink haar seuntjie is nog te jonk om te besef wat met hom gebeur het.

“Hy hoor wel dat ons praat van wat gebeur het, so hy praat van die tannie wat hom gevat het en sê dat hy gaan skreeu as iemand hom weer vat.”

Sy het bygevoeg dat sy baie kritiek kry omdat haar kind op ’n reling agter haar gespeel het.

“Ek was agterdogtig en het gedink die vroue wil my foon en beursie steel. Dit het alles so vinnig gebeur en die oomblik toe ek my oë van hom afhaal, het die vrou hom gegryp.”

Hoekom ontvoer mense kinders?

Prof. Rudolph Zinn, kriminalis verbonde aan Unisa, verduidelik daar is vier hoofredes in die Suid-Afrikaanse konteks waarom kinders ontvoer word.

Die waarskynlikste rede is om ’n losprys by iemand af te pers.

Dit gebeur ook van tyd tot tyd dat kinders ontvoer word ten einde hul liggaamsdele vir moetie te gebruik.

Dit kan ook weens ’n dispuut wees. In ’n egskeiding kan dit byvoorbeeld gebeur dat een van die partye die kind ontvoer en die land verlaat, wat dit moeilik maak vir die ander party om die kind op te spoor.

Die vierde rede is kinderdiefstal. Iemand steel ’n jong kind om hom of haar permanent groot te maak en ’n nuwe identiteit vir die kind te skep.

“Dit is nie ’n baie algemene verskynsel in Suid-Afrika nie, maar dit lyk ongelukkig of ontvoering in die algemeen die laaste paar jaar toeneem,” sê Zinn.


Meer oor:  Ontvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.