Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma vertel van smart ná seun (22) se skietdood

“Mammie moenie worry nie. Ek sal voor middernag terug wees. Ek sal nie laat wees nie.”

Dit was die laaste woorde wat Claudine Opperman (49) van Kraaifontein Saterdagaand van haar middelkind, Claude (22), gehoor het.

Sondagoggend het sy gehoor hy is doodgeskiet.

Claude was ’n BA-student aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en wou ’n onderwyser geword het.

Claude Opperman (22) Foto: Verskaf

Opperman sê sy is Sondag omstreeks 04:25 deur skote “uit my bed geruk”.

“Ek het so ’n gevoel gekry iets is fout,” sê sy. “ ’n Paar minute daarna het my jongste seun, wat ook die Saterdagaand uit was, aan ons deur gehamer.”

Hy het huilend gesê: “Claude is geskiet, Mammie. Hy is dood.”

Hoewel Opperman en haar man aanvanklik nie na die toneel wou gaan waar Claude gelê het nie, het sy dit tog later gedoen, “anders sou ek altyd gewonder het”. Hy is net ’n straat van hul huis af doodgeskiet.

Toe sy daar kom, het sy net “gekyk en teruggedraai”.

Opperman begin huil. “Hoekom my kind? Hy is dan so rustig en hy is die lieflikste mens.”

Sy weet steeds nie wat presies gebeur het nie.

“Mense het verskillende stories, maar ek wil maar net nou daarop fokus om my kind te begrawe. Ek kan nie vir jou sê hoe stukkend ek is nie. ’n Ouer wil gewoonlik hê hul kinders moet hulle oorleef. Nou is my kind dood en ons kan hom nie terugkry nie.”

“Dit voel asof my hart aan die buitekant van my liggaam is en iemand het daarop getrap.

“Soms voel dit asof ek droom en dat my kind enige oomblik nog by ons deur gaan instap.”

Claude Opperman en sy meisie, Bronwyn Caswell (20). Foto: Verskaf

Claude se pa was “te stukkend” om met Netwerk24 te praat.

Bronwyn Caswell (20), Claude se meisie van die afgelope twee jaar, sê sy het die Sondag omstreeks 05:00 iemand buite gehoor huil.

“Toe ek uitgaan, het een van Claude se vriende gesê hulle is jammer, hy is doodgeskiet,” sê sy. “Ek was deurmekaar en het na die toneel gegaan om self te sien.

“Hy het nog sy masker opgehad en het net daar gelê. Ons het nog so baie drome gehad. Sy dood is baie onwerklik, en ek voel ’n bietjie leeg nou.”

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie in Kraaifontein ondersoek ’n saak van moord.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê hy. “Die speurders volg alle leidrade op.”

Opperman sê Claude sal Saterdag begrawe word.

Claudine Opperman (49) en haar middelkind, Claude Opperman (22). Foto: Verskaf
Meer oor:  Kraaifontein  |  Student  |  Seun  |  Skietdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.