Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Maatskaplike werker van swendelary verdink

Etlike voormalige kliënte van ’n maatskaplike werker van Mpumalanga sê sy het hulle nie net uit honderde duisende rande gemanipuleer nie, maar ook van die wal af in die sloot gehelp tydens hul egskeidings.

’n Paartjie van Middelburg sê Amelia de Clercq, ’n maatskaplike werker, het valse beskuldigings teen die man gefabriseer. Foto’s: Deon Raath

’n Klaer van Kempton Park sê in ’n beëdigde verklaring aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (SACSSP) hy het oor vyf jaar R296 000 aan Amelia de Clercq van Middelburg betaal vir evaluasie, terapie en hofverslae.

“Dit het my R100 000 gekos net om my kinders oor ’n kwessie van ’n paar maande te kan sien.”

De Clercq het hom R550 per uur gevra om toesig te hou oor sy besoeke aan sy kinders. “Sy het die situasie uitgebuit en my behoorlik bankrot gemaak net sodat ek toegang tot my kinders kon hê,” sê hy.

’n Ma beweer in haar klagte aan die SACSSP dat De Clercq haar teen haar man probeer draai het deur hom valslik te beskuldig dat hy hul kinders aan pornografie blootgestel het.

‘Sy was ?.?.?. manipulerend, aggressief, en oneerlik.’

“Sy het haarself as toesighouer aangestel en my man moes haar R3 000 betaal elke keer wat hy die kinders onder haar toesig wou sien. Dit het hom uiteindelik R70 000 uit die sak gejaag,” sê sy.

“Haar toetrede tot ons lewens was rampspoedig. Ek was onkundig en naïef en sy het dit reggekry om ons te polariseer.

“Sy het my gedreig en voorgegee dat sy die mag het om my kinders van my af weg te vat as ek nie skei nie. Ons moes haar R22 000 vir twee forensiese verslae betaal wat sy twee jaar later steeds nie aan ons gelewer het nie. Ons het haar uiteindelik R120 000 betaal en het niks om daarvoor te wys nie,” sê die vrou.

Die SACSSP het aan Rapport gesê hulle het 19 klagtes van onetiese gedrag teen De Clercq tussen April 2017 en Februarie vanjaar ontvang. Sy is onskuldig bevind op drie van die klagtes en die 16 ander word nog ondersoek.

’n Ma vertel hoe Amelia de Clercq duisende rande by haar gevat het.

Uit die klagtes wat Rapport onder oë gehad het, blyk dit dit is nie net kliënte wat gekla het nie.

Estee Bouwer, ’n voormalige skuldinvorderaar vir De Clercq, beskuldig haar van oneerlikheid in haar klagte. Sy beweer De Clercq het ouers wat in egskeidings betrokke was twee keer vir dieselfde dienste laat betaal, mense vir konsultasies laat betaal wat nooit plaasgevind het nie en rekeninge vir dienste soos forensiese verslae en sielkundige diagnoses aan hulle gestuur terwyl sy nie gekwalifiseerd was om dit te doen nie.

Sy het ook kliënte en hul mediese fondse vir dieselfde dienste laat betaal, sê Bouwer.

De Clercq sê sy verwerp die aantygings van onprofessionele en onetiese gedrag.

’n Pa vertel inligting is gefabriseer dat hy sy dogter gemolesteer het.

“Hierdie klagtes is die onderwerp van klagtes wat by die SACSSP ingedien is wat onderhewig is aan ’n ondersoek. Ek is nie van voornemens om kommentaar te lewer op klagtes wat steeds hangend is, nie” het sy by navraag gesê.

Sy sê sy mag ook nie oor die sake praat nie “omdat dit in camera in die kinderhof voorgekom het”.

De Clercq sê sy het reeds beskermingsbevele teen van die klaers bekom en hulle oortree hofbevele deur met die media te praat.

Van die klaers het mekaar op ’n Facebook-groep ontmoet waar hulle soortgelyke ervarings gedeel het.

Die een voormalige kliënt skryf De Clercq het “op mense geteer wat nie lekker kon ooreenkom oor die kinders se toesigtye nie”.

Amelia de Clercq

“Sy kom in as die groot vredemaker,” lui die inskrywing. “Dit gee haar ’n gaping om haar dagboek vol te maak en haar sakke vol te prop met ’n sessie vir X en dan vir Y en dan altwee saam en dan vir die kind en dan vir al die kinders saam.”

Volgens die persoon wat die Facebook-boodskap geplaas het, het mense hom daarna oorval met klagtes dat sy op ’n soortgelyke manier duisende rande uit hulle gemelk het.

“Al die klaers het gesê my storie pas goed in met wat met hulle gebeur het,” sê hy.

’n 38-jarige pa van Middelburg vertel hy het De Clercq in 2017 genader om vir hom ’n hofverslag op te stel oor wat in die beste belang van sy kinders is.

“Sy het geëis om huisbesoeke te doen, my kinders keer op keer te evalueer en vir terapie te sien.”

Dit het hom R50 000 uit die sak gejaag en 18 maande later het sy steeds nie die verslag aan hom oorhandig nie.

“Ek het haar in Februarie laat weet dat ek my geld wil terughê en nie meer in die verslag belang stel nie. Sy het die verslag toe in Maart vir my gestuur.

“Dit was in uiters swak taal geskryf en dit was vol spelfoute. Dit het soos ’n cut-en-paste-job gelyk.”

Hy sê De Clercq het sy kinders geweldig getraumatiseer weens al die evaluasies. “Sy het nie in die belang van my kinders opgetree nie, maar het hulle bloot getraumatiseer om geld te maak.”

Nog ’n klaer beweer dat De Clercq berading vir sy meisie gedoen het terwyl sy terselfdertyd veronderstel was om as ’n bemiddelaar in sy egskeiding op te tree en ’n ouerskap-plan op te trek.

Hy sê De Clercq het sy meisie gebruik om inligting oor hom te bekom wat sy toe teen hom gebruik het.

Hy sê De Clercq was ’n “huursoldaat” wat hom en sy vrou teen mekaar opgesteek het.

“Sy was veronderstel om ’n bemiddelaar te wees, maar sy was partydig, eensydig, manipulerend, aggressief, en oneerlik. Sy het my kinders hierdeur benadeel.”

’n 37-jarige man beweer in sy klagte dat De Clercq hom probeer dwing het om ’n eensydige ouerskapplan te onderteken sodat sy eksvrou alleen toesig oor sy kind sou kry wat haar in staat sou stel om elders heen te verhuis.

Toe hy weier om dit te onderteken het sy eksvrou en haar ma hom daarvan beskuldig dat hy sy dogter gemolesteer het.

Geen klagte is ooit by die polisie hieroor ingedien nie.

Toe hy in 2018 ’n klagte by die SACSSP oor De Clercq se beweerde onetiese gedrag ingedien het, het die maatskaplike werker ’n e-pos van sy vrou af aan die SACSSP gestuur waarin sy hom daarvan beskuldig dat hy sy kind gemolesteer het, sê hy.

“Amelia het geweet dat die bewerings vals is, maar sy het dit teen my gebruik toe sy self in die spervuur by die SACSSP beland het weens my klagtes,” sê hy.

Volgens die SACSSP behoort al die klagtes teen Junie afgehandel te wees, afhangende van die impak wat die Covid-19-pandemie op die ondersoeke kan hê.

Meer oor:  Middelburg  |  Maatskaplike Werker  |  Swendelaar  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.