Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Malema ‘het dokter laat skors’

Die narkotiseur wat die afgelope week in ’n sluipmoordaanval doodgeskiet is, is vroeër glo weens druk van Julius Malema deur Netcare geskors.

Alec Milovich wys waar dr. Abdulhay Munshi in Goodman-terras in Fairwood, Johannesburg, doodgeskiet is. Foto: Elizabeth Sejake

Verskeie organisasies wat medici verteenwoordig, beskuldig Netcare en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) daarvan dat hulle onder politieke druk van Malema geswig het toe hy daarop aangedring het dat daar verlede jaar teen dr. Abdulhay Munshi (57) opgetree word.

Munshi, ’n narkotiseur van Houghton, Johannesburg, is Woensdagmiddag koelbloedig in Fairwood doodgeskiet. Die moord het woede onder die land se mediese gemeenskap ontlok.

Alec Milovich, ’n ooggetuie, sê die aanvallers het met ’n grys Mercedes-Benz agter in Munshi se BMW vasgery en toe Munshi uitklim om die skade te bekyk, is daar op hom losgebrand. Milovich sê die Mercedes-Benz, sonder nommerplate, het weggejaag.

Dr. Abdulhay Munshi (57)

Munshi is ses keer in die kop geskiet.

Netcare het Munshi en prof. Peter Beale, ’n pediatriese chirurg, in Oktober geskors kort nadat Malema die Netcare Park Lane-kliniek besoek het en aangedring het dat daar teen die dokters opgetree word in verband met die dood van die tienjarige Zayyaan Sayed. Malema het Netcare daarna in ’n twiet bedank vir hul optrede.

Netcare het toe ontken dat Malema enigsins ’n invloed op hul besluit gehad het om die dokters te skors.

Chirurg vrees vir sy lewe.

Zayyaan is in Oktober dood ná ’n roetine- laparoskopiese operasie vir gastro-esofageale reflukssiekte. Beale het geopereer en Munshi was die narkotiseur.

Die NVG het Munshi en Beale in Desember van strafbare manslag aangekla nog voordat ’n nadoodse ondersoek afgehandel is. Dit was nadat Mohammadh Sayed, wat noue bande met Malema het, klagte ingedien het dat Munshi en Beale verantwoordelik is vir Zayyaan, sy seun, se dood.

Malema het die NVG toe vir hul goeie werk in ’n twiet geprys.

Dood ná operasie: Zayyaan Sayed

Sayed en die omstrede sigarethandelaar Adriano Mazzotti is albei direkteure van die tabakmaatskappy Carnilinx. Mazzotti is een van Malema se vroegste skenkers, wat in 2014 voor die algemene verkiesing die registrasiegeld van R200 000 vir die EFF betaal het.

Die joernalis Jacques Pauw het in sy boek oor staatskaping, The President’s Keepers, beweer Mazzotti het ruim bygedra tot Nko­sazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se veldtog om Jacob Zuma, haar eksman, as president op te volg.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs (Sasa) en die Suid-Afrikaanse Forum vir Private Praktisyns het die NVG in Desember gekritiseer dat Munshi en Beale “onwettig in hegtenis geneem is” nog voordat die nadoodse ondersoek afgehandel is. Sasa het Netcare gekritiseer dat hulle onder politieke druk geswig het om Munshi te skors nog voordat hul interne ondersoek afgehandel is.

Die selferkende moordenaar Mikey Schultz (heel links) en Julius Malema saam met direkteure van Carnilinx, Adriano Mazzotti, Mohammadh Sayed en Kyle Phillips.

Amper 70 000 mense het in Januarie ’n petisie onderteken wat daarop aandring dat die owerhede die saak teen die dokters moet laat vaar omdat hulle voortydig aangekla is.

Dr. Kgosi Letlape, hoof van die Raad op Gesondheidsberoepe, sê hy glo die NVG se optrede, om onder politieke druk te swig en Munshi “onwettig” aan te kla, het ’n rol in sy sluipmoord gespeel.

“Die EFF het geweldige druk op die NVG en Netcare geplaas om teen die dokters op te tree en hulle is in hegtenis geneem sonder dat daar enige bewyse was van mediese nalatigheid.”

Hy sê Munshi en Beale is as misdadigers uitgebeeld. “Dit het Munshi kwesbaar gemaak vir die mense wat nou reg in eie hande geneem het en hom vermoor het.”

Dr. Abdulhay Munshi is Donderdag by die Wespark-begraafplaas in Montgomery Park begrawe. Foto: Elizabeth Sejake

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê Beale kruip nou weg omdat hy vrees vir sy lewe. Sy sê Munshi en Beale het doodsdreigemente ontvang nadat dit bekend geword het dat die saak van strafbare manslag moontlik teen hulle laat vaar sou word.

“Die sluipmoord op dr. Munshi het geweldige onsekerheid onder dokters veroorsaak wat hul veiligheid aanbetref. Dokters is nou huiwerig om sekere pasiënte te behandel. Hulle wil nie pasiënte of hul familielede behandel wat ’n hoë profiel handhaaf of politieke bande het nie omdat hulle vrees dat hulle geteiken kan word.”

Goolam Hoosen, Munshi se neef, sê die familie wil nie bespiegel oor die moord nie.

“Ons kan nie sê of dit ’n wraakaanval of ’n sluipmoord was nie. Die polisie sal moet vasstel wat die rede is vir sy moord.”

Sayed ontken enige betrokkenheid by die sluipmoord.

Hy sê in ’n verklaring daar word afleidings in die media gemaak dat Munshi se sluipmoord verband hou met sy seun se dood.

“Die afleidings is onverantwoordelik, roekeloos, bespiegelend en sensasioneel,” sê Sayed.

Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder, het nie Rapport se oproepe beantwoord nie.

Meer oor:  Zayyaan Sayed  |  Julius Malema  |  Abdulhay Munshi  |  Peter Beale  |  Moord  |  Netcare  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.