Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Malema nie nou vervolg

Julius Malema gaan “vir eers” vervolging vryspring weens beweerde tenderbedrog van R60,4 miljoen, al gaan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sy voormalige sakevennote opnuut vervolg.

Die NVG het Vrydag uiteindelik in ’n brief aan AfriForum gesê hy gaan On- Point Engineers in Limpopo, Lesiba Gwangwa en Kagisho Dichabe weer in die hooggeregshof daarvan aankla dat hulle Limpopo se paaie-en-vervoerdepartement mislei het in die toekenning van ’n tender van R52 miljoen.

Thomas Rasethaba is nou ook een van die beskuldigdes. Hy het volgens Mail & Guardian ’n trust gestig wat ’n belang in On-Point gehad het.

Die Zuma-saak het bewys dit moenie so gedoen word nie.
Kallie Kriel, AfriForum

In dieselfde verhoor sal Gwangwa en sy On-Point-maatskappy ook teregstaan op drie bedrogklagte omdat hulle glo aan die departement voorgegee het die maatskappy is nie vir padontwerpe betaal nie, al het hy wel R8,4 miljoen daarvoor gekry.

On-Point is in 2009 aangestel om die departement te help met die ontwikkeling van infrastruktuur, instandhoudingswerk en beplanning.

Adv. George Baloyi, waarnemende direkteur van openbare vervolging in Pretoria, sê hy weier om Malema “in dié stadium te vervolg”.

“Ná die afhandeling van die verhoor sal die verslag van die verrigtinge en enige geloofwaardigheidsbevindings wat die hof gemaak het, asook die verslag van die aanklaer wat die verhoor behartig het, nagegaan word om te bepaal of ’n strafregtelike vervolging teen mnr. Malema ingestel moet word.”

Baloyi het gesê in so ’n geval sal ’n aparte ondersoek dadelik begin word oor Malema se administrasie van sy Ratanang-familietrust. Daarna sal daar oor Malema besluit word.

Hy, Gwangwa en Dichabe is aanvanklik in 2012 aangekla van korrupsie, geldwassery en rampokkery.

Regter Billy Mothle het die saak op 4 Augustus 2015 van die rol geskrap toe die staat dit weer vir drie weke wou uitstel.

Die staat het toe beweer die paaiedepartement het R43 miljoen van die tender aan On-Point betaal en dat die Ratanang-familietrust as aandeelhouer R4 miljoen van die geld gekry het.

Malema-hulle het dit uit die staanspoor ontken. Die openbare beskermer het vroeër bevind staatskontrakte is onwettig aan On-Point toegeken en dat geld oorbetaal is aan die Ratanang-trust.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het aan Rapport gesê hulle het byna ’n jaar en ’n half vir die NVG gewag. “Nou is daar darem ’n besluit, al is dit die verkeerde een. Ons gaan vertoë rig om te sê dis die verkeerde besluit. Malema moet saam met die ander vervolg word.”

Hy sê volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is daar genoeg bewyse om Malema van geldwassery aan te kla.

“As die staat hom nie wil vervolg nie, wil ons die kans gegun word om dit te doen.” Kriel sê die bekendste voorbeeld van vervolgings in dieselfde saak wat só geskei is, was dié van Schabir Shaik en oudpres. Jacob Zuma. “Die Zuma-saak het bewys dit moenie so gedoen word nie. Die NVG se besluit is onwys.”

Shaik is in 2005 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en korrupsie. Zuma is in sy verhoor betrek.

Shaik is in Maart 2009 op mediese parool vrygelaat. Maar Zuma se verhoor het steeds nie begin nie.

AfriForum het vanjaar in briewe druk op die NVG geplaas om die saak teen Malema te versnel. Die NVG se litigasie-eenheid vir voorkeurmisdade (PCLU) het in April verlede jaar aan AfriForum geskryf hy is steeds besig met die proses om te besluit of die klagte teen Malema heringestel moet word. ’n Besluit sou voor Augustus 2018 geneem word, het dr. Torie Pretorius, destyds waarnemende hoof van die PCLU, geskryf.

Meer oor:  Gerrie Nel  |  Julius Malema  |  Kallie Kriel  |  George Baloyi  |  Kagisho Dichabe  |  Lesiba Gwangwa  |  Thomas Rasethaba  |  Nvg  |  Afriforum  |  Tenderbedrog  |  On Point
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.