Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Malmesbury: Al die ontsnaptes weer agter tralies

Die departement van korrektiewe dienste het Sondag bevestig dat al 68 gevangenes wat Vrydag uit die Medium B-afdeling van die Malmesbury-gevangenis ontsnap het, weer agter tralies is.

Beamptes van die departement van korrektiewe dienste Vrydag saam met een van die ontsnaptes wat weer aangekeer is. Foto: Jaco Marais

Aanvanklik is berig dat 69 gevangenes ontsnap het. Die meeste van die groep is reeds Vrydag aangekeer.

Die laaste drie gevangenes wat nog gesoek is, is Saterdag onder meer in Laaiplek aan die Weskus en in Riebeek-Kasteel aangekeer.

Die een is van Laaiplek en dien tronkstraf uit vir die besit van toerusting waarmee huisbrake uitgevoer word. Die ander twee is van Riebeek-Wes. Een van hulle dien tronkstraf uit vir huisbraak en diefstal en die ander een, wat ook al voorheen ontsnap het, is in die tronk vir ontsnapping en aanranding.

’n Betroubare bron het gesê die man wat in Laaiplek aangekeer is, het daar by mense gaan wegkruip nadat hy glo tot daar geryloop het. Lede van die publiek wat die foto’s gesien het van die laaste ses gevangenes wat Vrydag gesoek is en onder meer in Die Burger en op Netwerk24 gepubliseer is, het hom herken en Saterdag na die plaaslike polisie gegaan. 

Hulle het die adres gegee waar hy hom moontlik bevind. Met die polisie se aankoms by die huis was hy egter nie daar nie, waarna hy in ’n gebou langsaan opgespoor is.

Die laaste twee ontsnaptes is Saterdagaand en vroeg Sondag omstreeks 02:00 in die berge en veld rondom Riebeek-Kasteel in hegtenis geneem. 

Intussen het mense op sosiale media gesê dat die inwoners van Malmesbury die helde in die sage is. 

Johann Maarman van Malmesbury was in die dorp Vrydagmiddag toe hawelose mense van die ontsnapte gevangenes uitgewys het wat onder ’n brug skuil. Van die gevangenes het van die hawelose mense se klere gesteel en aangetrek in ’n poging om hulself te vermom. 

Volgens Maarman het die een hawelose vir hulle geskreeu toe die polisie die mans aankeer: “Jy met jou vuilgat kan maar my jacket hou, ek wil dit nie meer hê nie!”

Inwoners van die dorp het ook burgerlike inhegtenisnemings uitgevoer.

Volgens gerugte op sosiale media het inwoners van die gebied wat as “Klein Huise” bekend staan, ook gevangenes in hegtenis geneem, maar van hulle glo eers aangerand voordat die polisie ontbied en die ontsnaptes oorhandig is.

’n Video het ook Vrydagaand die ronde op sosiale media gedoen van inwoners van Wesbank wat ’n plek tussen die bosse uitwys waar van die ontsnapte gevangenes geskuil het.

Die polisie het dan ook twee mans uitgehaal uit wat na ’n groot pyp lyk. 


Meer oor:  Johann Maarman  |  Malmesbury  |  Gevangenes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.