Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man (23) op borgtog weer vas ná skietery by hospitaal

’n Jong man wat op borgtog was, is die naweek in verband met Vrydagmiddag se skietery voor ’n hospitaal in Korsten, Port Elizabeth, vasgetrek.

Die polisie en paramedici staan Vrydag voor die Mercantile-hospitaal in Port Elizabeth waar ’n 28-jarige man doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Die 23-jarige man is glo een van drie verdagtes wat omstreeks 14:30 skote op die hoek van Durbanweg en Cottrellstraat duskant die ingang na die Mercantile-hospitaal afgevuur het.

Jimmy Valentine (28), wat na bewering ’n bendelid was, is in die voorval doodgeskiet en twee omstanders het in die kruisvuur beland en is gewond.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Valentine en twee van sy vriende het glo op ’n taxi gewag. Sekondes nadat die taxi stilgehou het, het die verdagtes glo voor die voertuig verbygehardloop en op Valentine-hulle losgebrand.

“Valentine het verskeie skietwonde opgedoen en is op die toneel dood. Sy vriende is ongedeerd,” sê Naidu.

Getref deur dwaalkoeëls

Twee mans wat by ’n manshaarkapper in die straat was, is deur dwaalkoeëls getref.

“ ’n 25-jarige man is in die hand en boud getref, terwyl die 30-jarige barbier in sy maag geskiet is. Albei is in die hospitaal opgeneem.”

Volgens ooggetuies het een van die skieters weggehardloop, terwyl die ander twee die bestuurder van ’n Ford-bakkie in die straat met ’n vuurwapen gedreig het. Hulle het by die bakkie ingeklim en die bestuurder glo gedwing om weg te jaag, voordat hulle verder af in Durbanweg uitgeklim het.

Beamptes van die polisie se teenbende-eenheid se ondersoek het hulle Vrydag omstreeks 22:00 na die 23-jarige verdagte se ma se huis in Gelvandale gelei waar die man, ook ’n vermeende bendelid, in hegtenis geneem is.

Naidu sê die verdagte was ten tyde van die skietvoorval op borgtog vir ’n onverwante saak van poging tot moord. Besonderhede oor dié saak was nie Sondag onmiddellik beskikbaar nie.

Die man sal Maandag vir die oortreding van sy borgtogvoorwaardes, die moord op Valentine, asook twee sake van poging tot moord in die hof verskyn.

Die soektog na die ander verdagtes duur voort.

Meer oor:  Jimmy Valentine  |  Port Elizabeth  |  Korsten  |  Borgtog  |  Skietdood  |  Bendegeweld  |  Skietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.