Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man (24) in hegtenis ná gru-moord in Bellville
Lynette Volschenk
Lynette Volschenk (32) Foto: Facebook

Inwoners van die bekende Seesig-woonstelblok in Loevenstein, Bellville, is geskok ná die gru-moord van ’n 32-jarige vrou wat daar gewoon het.

Lynette Volschenk, ’n voormalige werknemer van ’n ingenieursfirma, is glo in haar woonstel op die tiende verdieping vermoor en haar lyk is in stukke opgesny. Haar lyk is in swartsakke in ’n mede-inwoner se woonstel gevind. 

Die 24-jarige mede-inwoner is in hegtenis geneem, sê sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder. Bloedspore na die man se woonstel op die negende verdieping het glo die polisie na hom gelei.

Die beskuldigde sal in die landdroshof in Bellville verskyn sodra hy aangekla is.

Die woonstel op die tiende vloer waar Volschenk glo vermoor is.Foto: Ané van Zyl
Die garage waar die polisie hul ondersoek voortgesit het, is aan die teenoorgestelde kant van waar die moord glo gepleeg is.Foto: Adrian de Kock

Inwoners van die woonstelblok het Donderdag gesê hulle kon Donderdagoggend bloed aan sy vingerpunte en onder sy naels sien toe die polisie hom wegneem.

Inligting oor hoe die moord plaasgevind het, is nog skraps. Dit bly onduidelik waarmee haar lyk in stukke gesny is, en of die twee mekaar geken het. Polisielede en forensiese personeel het Donderdagmiddag die toneel in en om die woonstelblok gefynkam, en veral in ’n garage wat glo aan die beskuldigde behoort.

Netwerk24 is nie naby die garage toegelaat nie.

Polisiebeamptes staan by die deur van die garage wat glo aan die beskuldigde behoort. Foto: Adrian de Kock

Inwoners het Donderdag vertel dat verskeie gerugte die ronde doen oor vreemde geluide wat die vorige aand in die gebou gehoor is.

“Die vrou wat onder Volschenk se woonstel bly, het gesê sy het Woensdagaand iemand gehoor gil. En daarna het sy blykbaar heelaand ’n gekap gehoor,” vertel ’n inwoner.

“Maar sy het nie ondersoek ingestel nie. Dit kon enigiets doodonskuldig ook wees.”

Die inwoner, wat nie haar naam genoem wou hê nie, sê Volschenk se kollegas het Donderdagoggend ondersoek kom instel nadat sy nie by die werk opgedaag het nie. Dit is nie duidelik waar sy ten tyde van haar dood gewerk het nie.

“Ek het gehoor die man was steeds in haar woonstel toe die kollegas daar aankom. Hy was besig om ’n muur te verf of iets, en die woonstel was deurmekaar en vol bloed.”

Hartseer omstanders, glo familie, loop weg van die gebou.Foto: Adrian de Kock

Die man het glo aangevoer hy word betaal om die verfwerk daar te doen, en het glo ook blou handskoene aangehad.

“Nie lank daarna nie was Lynette se suster ook by die woonstel. Sy het vir ons foto’s van haar gewys.”

’n Ander inwoner het vertel die beskuldigde het bloedspore in die gang gelaat soos hy die lyk na sy woonstel, aan die ander kant van die gebou, gedra het.

“Hy het blykbaar bloed by die rommelskag afgegooi,” sê die inwoner. Hy wou ook anoniem bly.

Dié inwoner het Volschenk nie persoonlik geken nie, maar het haar as ’n groot gelowige beskryf. Daar is ook glo ’n splinternuwe Bybel in haar posbus gevind wat sy laat aflewer het.

Talle inwoners onthou goed hoe daar vroeër vanjaar ook ’n lyk in ’n woonstel by dieselfde woonstelblok gekry is. Dié lyk was dié van ’n 65-jarige man.

TygerBurger het op 15 Mei berig die polisie soek meer inligting nadat die man gevind is waar hy reeds vir 36 uur heeltemal in ou tou toegedraai was. Die polisie het die lyk gevind nadat bure van die man ondersoek ingestel het toe hulle sy TV ure aaneen op dieselfde kanaal teen ’n harde volume hoor speel het.

Die man se veiligheidshek by sy woonstel se voordeur is glo oopgeforseer.

Rwexana het Donderdag gesê niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie, en het gevra dat enigiemand met inligting die ondersoekbeampte, sers. Clinton Lategan, by 082 259 2632 moet bel.

“Vandat ek hier bly, het ek nou en dan gehoor hoe iemand aan my hek ruk,” vertel ’n inwoner. “Ek het gaan kyk, en dan is daar niemand nie. Ek het dit maar afgemaak as my verbeelding – nou weet ek nie.”

Sy sê die tweede moord in die woonstelblok skok haar veral omdat sy nog Donderdagoggend gedink het hoe veilig sy voel.

“En nou gebeur so iets met iemand wat op dieselfde vloer bly as ek, nogal naby aan my ook! Dit is te walglik vir woorde.”

Meer oor:  Belville  |  Kaapstad  |  Vrou Vermoor  |  Seesig-Grumoord  |  Lyk Opgekap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.