Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man (67) op kleinhoewe vermoor

Die polisie in Port Elizabeth ondersoek ’n saak van moord en roof nadat ’n 67-jarige man Maandagoggend dood in sy huis op ’n kleinhoewe in Rocklands aangetref is.

Die polisie het Maandagmiddag nog dié huis op ’n kleinhoewe in Rocklands, net buite Port Elizabeth, vir leidrade gefynkam nadat die huiseienaar se lyk Maandagoggend in die huis gekry is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die man is omstreeks 08:40 deur sy 59-jarige tuinwerker op die sitkamervloer in sy huis aangetref.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die man se hande en voete was met elektriese kabels vasgebind.

Naidu sê die man, wie se naam weerhou word totdat die polisie sy familie gekontak het, het ’n wond aan sy kop, maar kon nie onmiddellik bevestig of dit ’n skietwond óf weens aanranding was nie.

Volgens die polisie se voorlopige ondersoek het die tuinwerker Maandagoggend vir werk by die kleinhoewe opgedaag en die huis se voordeur en veiligheidshek oop aangetref.

Naidu sê die tuinwerker het nie verder ondersoek ingestel nie, maar het met sy werk begin. Die tuinwerker het wel later opgelet sy fiets is nie in die werkwinkel nie. Hy het die man binne die huis geroep, maar geen antwoord gekry nie.

Die agterdeur was oop en die tuinwerker het besluit om in te gaan. Hy het die huis in ’n warboel aangetref en sy werkgewer dood.

Naidu het bevestig dit kom voor of die huis vir waardevolle items deurgesoek is, maar sê dit is nog onduidelik of iets gesteel is. Sy sê die kluis in die huis is ook oop aangetref.

Die huiseienaar se lyk is Maandagmiddag van die toneel verwyder. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die oorledene se motor is nie gesteel nie.

Die man het alleen gewoon in die onderste verdieping van die huis en het die boonste verdieping verhuur.

Volgens die polisie se inligting is hy Saterdag omstreeks 10:00 laas lewend gesien toe hy inkopies by ’n nabygeleë winkel gedoen het.

* Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan speurkapt. Chris Rowan by 082 442 1457 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.