’n Verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal ná ’n skietery Dinsdag buite die Isipingo-poskantoor in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal.
Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n groep mense het Dinsdagoggend in ’n tou buite die poskantoor in Ou Hoofweg gestaan toe ’n rusie glo uitgebreek ??het nadat twee mans wou indruk.
“In die rusie het ’n man glo ’n vuurwapen uitgepluk en skote afgevuur en twee mense gewond. Die man het tot op die hoek van Inwabi- en Gokulweg gevlug, waar nog ’n man (vermoedelik in sy 30’s) hom probeer keer en in die bors geskiet is. Hy is op die toneel dood verklaar.”
Volgens Gwala het gemeenskapslede die verdagte aangerand. Hy is met die hulp van ’n veiligheidsmaatskappy aangekeer en na die polisie geneem.
“Daar is ook op sy vuurwapen beslag gelê. Die 45-jarige verdagte is hospitaal toe geneem nadat hy beserings opgedoen het en is onder polisiebewaking. Die Isipingo-polisie ondersoek klagte van moord en poging tot moord,” sê Gwala.
Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het intussen skok oor die voorval uitgespreek.
Martin Coetsee, streekbestuurder van die Poskantoor in KwaZulu-Natal, het medelye met die familie en vriende van die oorledene betuig, en sê hy hoop op die vinnige herstel van die twee mense wat in die voorval gewond is.
Volgens Coetsee bied hulle verskeie opsies aan die begunstigdes van die Covid-19-toelae van R350 sodat die druk op poskantore verlig kan word. Dit help ook om die getal mense in ooreenstemming met die koronavirus-regulasies te verminder.
“Begunstigdes kan ’n Postbank-rekening open. Hulle kan dan reël dat die toelae by dié rekening inbetaal word en hul kaart gebruik om inkopies te doen, of die geld by ’n supermark of kitsbank onttrek,” sê hy.