Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man aangekeer vir moord op konstabel

’n Man is Saterdagaand in hegtenis geneem vir die moord op Siphelele Cele, ’n polisiekonstabel van Durban in KwaZulu-Natal.

Luidens ’n polisieverklaring is Cele Vrydagoggend doodgeskiet toe hy en ’n kollega ’n motor in Berea voorgekeer het.

“Toe die polisiebeamptes die motor nader, het die passasier op Cele geskiet. Die verdagte wat die skote afgevuur het, het toe in die bestuurderskant ingespring en weggejaag. Die man wat aanvanklik die motor bestuur het, is in hegtenis geneem,” lui die verklaring.

Die motor is later verlate gevind in die gebied van Sydenham.

’n Span van misdaadintelligensie, die Valke en die polisie se honde-eenheid is ingespan om die aanvaller op te spoor.

Hy is Saterdagaand in Pietermaritzburg voorgekeer toe hy op ’n bus wou klim na Johannesburg.

“Die verdagte het die polisiebeamptes gesien wat hom wou voorkeer en hy het probeer vlug. Hy is egter deur die polisie se honde-eenheid gestop en in hegtenis geneem.”

Die man het ’n dienspistool van die polisie in sy besit gehad wat hy vroeër by ’n polisiebeampte in Umlazi in Desember gesteel het.

Die man is eers by die Pietermaritzburg-polisiekantoor aangehou en aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

“Hy is later na die Durban-Noord-polisiekantoor oorgeplaas waar hy van die moord op Cele aangekla is.”

Genl. Khehla Sitole het die multidissiplinêre span van polisie-eenhede geloof vir hul werk om die vermeende skieter in hegtenis te neem.

“Die inhegtenisname van die verdagte binne 48 uur nadat die misdaad gepleeg is, moet geloof word. Dit moet dien as ’n waarskuwing aan almal wat aanhou om die gesag van die regering te ondermyn deur wetstoepassers dood te maak,” sê Sitole in ’n verklaring.

Meer oor:  Durban  |  Moord  |  Polisie  |  Konstabel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.