Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man aangekeer weens moord op polisieman

Die Valke in Noordwes het ’n 47-jarige man vasgetrek wat na bewering betrokke was by die moord op ’n polisiekonstabel verlede week naby Mahikeng.

Joseph Mathe het Donderdag in die landdroshof in Mmabatho verskyn nadat hy Dinsdag in ’n nedersetting naby Mahikeng in hegtenis geneem is weens die moord op konst. Thato Makhoana (26).

Mathe bly in aanhouding en verskyn op 11 Augustus weer in die hof om regsverteenwoordiging te kry.

Konst. Thato Makhoana Foto: Verskaf

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke in Noordwes, sê in ’n mediaverklaring polisiespeurders, die polisie se honde-eenheid, die blitspatrollie en die plaaslike misdaadrekordsentrum het die Valke bygestaan.

“Daar is ’n moontlikheid dat nog mense weens die moord in hegtenis geneem kan word.”

Rikhotso sê Mathe is deur die polisieondersoek met die moord verbind, maar meer besonderhede kan nie nou al bekend gemaak word nie omdat die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is. ’n Moontlike motief vir die moord is dus nog onduidelik.

Makhoana se lyk met skietwonde is op 29 Julie naby Mahikeng gevind, nadat hy dieselfde dag vermis geraak het. Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, het kort nadat die lyk gevind is, gesê Makhoana was nie aan diens toe hy vermoor is nie. Hy het die betrokke oggend na sy suster in Zeerust gery, maar nooit opgedaag nie. Toe niemand hom later telefonies kon bereik nie, het die soektog begin.

Makhoana se lyk is vroegaand in ’n nedersetting naby Majemantsho (in die Mahikengdistrik) gevind. Sy uitgebrande Toyota Corolla is sowat 40 km van daar in ’n ander nedersetting, maar ook in die Mahikeng-distrik, gevind.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiekommissaris in Noordwes, het die moord op Makhoana ten sterkste veroordeel en sy meegevoel aan sy familie en kollegas betuig. Makhoana was in Mmabatho gestasioneer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.