Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man buite Polokwane met klippe doodgegooi

’n Man is Sondag in Mankweng buite Polokwane met klippe doodgegooi in een van minstens drie voorvalle in Limpopo waar gemeenskappe die reg in eie hande geneem het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die 24-jarige man is deur ’n woedende groep mense met klippe bestook omdat hulle hom van ’n moord by ’n plaaslike drankwinkel verdink het.

In nog ’n voorval in dieselfde streek is ’n 67-jarige man, wat deur die gemeenskap van Sekgosese verdink is van die moord op ’n vriend van hom, se huis afgebrand.

Ngoepe sê daar is ook twee grasdakhuise en ’n sesslaapkamerhuis afgebrand.

Die geweld het uitgebreek nadat die lyk van ’n 67-jarige man verlede week in ’n dam gekry is. Die gemeenskap is na die huis van die man wat hulle van die moord verdink en het eers die hek voor die huis afgebreek voordat hulle dit aan die brand gesteek het.

In ’n aparte voorval van vigilante-geweld is sewe huise Vrydag in Mutale buite Thohoyandou afgebrand.

Mense hier beskuldig Dovhani Munyai daarvan dat sy weet waar Muzila Shumami (26), ’n psigiatriese pasiënt, is wat op 21 Maart vermis geraak het. Van die huise wat afgebrand is behoort aan Munyai.

Ngoepe sê die ontstoke gemeenskap het boonop ’n plaaslike supermark afgebrand.

Die polisie kon hulle keer toe hulle op pad was om Munyai se huis aan die brand te steek.

Ngoepe sê die polisie maan weereens die publiek om nie die reg in eie hande te neem nie.

“Dit sal nie geduld word nie.”

Die afgelope tyd is daar elke week verskeie voorvalle waar mense wat van misdrywe verdink word, se eiendom afgebrand word.

Enigiemand met inligting kan lt.kol. William Ramakubedu by 082 499 8389 bel.

Meer oor:  Polokwane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.