Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man by Spar met staalpype vermoor

Te midde van rassespanning oor ’n sjampoe-advertensie word drie mans van Carolina in Mpumalanga daarvan aangekla dat hulle twee mans in die stoorkamer van die plaaslike Spar so erg aangerand het dat een later aan sy wonde beswyk het.

En in Standerton bring ’n vulstasie­eienaar die naweek ook in aanhouding deur omdat hy EFF-lede wat by die plaaslike Clicks betoog het, glo ape genoem het.

Die beweerde aanranding in Carolina het glo reeds op 1 September in die stoorkamer van die plaaslike Spar plaasgevind. Daar word beweer dit was omdat Thulani en Thabiso Sibanyoni ’n wit werknemer beledig het, maar Rapport kon dit nie bevestig nie.

Twee senior bestuurslede van die winkel, William Viljoen (32) en Hannes Terblanche (29), asook Obi Nortjé (32), ’n veiligheidswag, het hulle voorverlede Vrydag reeds by die plaaslike polisiekantoor gaan aanmeld nadat die polisie hulle gekontak het vir ondervraging. Al drie is in hegtenis geneem op aanklagte van moord, aanranding, aanranding met die opset om ernstig te beseer en menseroof.

Hulle het die afgelope Maandag in die landdroshof in Carolina verskyn, waar ontstoke inwoners betoog het.

Die drie bly in aanhouding totdat hulle dié Woensdag weer in die hof moet verskyn.

Viljoen en Terblanche is by die werk geskors hangende die uitslag van die ondersoek teen hulle.

Die maatskappy Vossies Security, Nortjé se werkgewer, het sy diens aan Spar intussen opgeskort.

’n Gemeenskapsaktivis van Carolina, Nomonde Nkosi, het vandeesweek voor die Spar betoog omdat twee bestuurders daar glo betrokke was by die aanranding van twee swart mans, van wie een later beswyk het.

Volgens ’n plaaslike aktivis, Nomonde Nkosi, is Thulani en Thabiso Sibanyoni (hulle is blykbaar nie familie nie) glo deur die drie mans in die dorp se Silobela-township “gejag” en teruggeneem na die winkel nadat daar ’n insident by die winkel was tussen hulle en die werkers.

“Ek is nie seker presies wat gebeur het nie,” het Nkosi gesê. Sy sê die twee is bekend as nyaope-rokers. Nyaope is ’n mengsel van dagga, laegraadse heroïen en ander middels.

Volgens haar het drie mans die twee blykbaar op 1 September in die supermark se stoorkamer aangehou, waar hulle glo erg aangerand en met staal­stawe en ysterpype geslaan is. Thulani is later dieselfde dag in ’n hospitaal in eMalahleni aan sy beserings dood.

Nkosi het verlede Saterdag alleen voor die Spar betoog en geëis dat die winkel toemaak.

’n Mede-eienaar van Vossies Security wat verkies om anoniem te bly, het die gebeure gister aan Rapport bevestig.

“Ek kan nie meer besonderhede daaroor gee voordat dit nie deur die hof aangehoor word nie, maar kan mense verseker dat die storie wat tans vertel word nie die volle waarheid is nie.

“Daar is dinge wat binne die volgende twee weke sal uitkom en eers dan sal die volle waarheid uit wees.”

Volgens hom is die twee mans op 1 September aangekeer na aanleiding van ’n voorval wat reeds op 14 Augustus gebeur het. Hulle is na die winkel geneem om uitgeken te word. Die gemoedere het toe weer opgevlam.

Die afgelope Maandag het inwoners van Carolina en Silobela, asook lede van die plaaslike polisie en die veiligheidshoof van die Albert Luthuli-munisipaliteit saam vergader.

Die Spar in Carolina, Mpumalanga. Foto: GoogleMaps

Luidens die notule, wat Rapport gesien het, was die doel van die vergadering om probleme tussen die bestuur van Spar en die gemeenskap van Silobela uit te stryk ná die voorval by die supermark.

Daar is ooreengekom dat die personeel van Spar wat by die beweerde aanranding betrek word, geskors sal word totdat die saak in die hof besleg is en dat ’n tussentydse bestuur by die Spar aangestel sal word, wat gelei word deur ’n swart vrou.

Daar is ook besluit dat Vossies Secu­rity se diens aan Spar opgeskort moet word.

Die teenwoordiges by die vergadering stem saam dat die ernstige dwelmprobleem in die omgewing aandag moet kry. Daar is ook ooreengekom dat ’n komitee gestig sal word wat sal omsien na die betrokke families se belange.

¦ Die eienaar van ’n BP-vulstasie in Standerton het Vrydag op aanklag van crimen injuria in die landdroshof verskyn omdat hy glo na EFF-betogers by Clicks as ape verwys het.

Christiano Dippenaar se borgtogaansoek word môre aangehoor.

Brig. Leonard Hlathi, ’n polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het albei voorvalle bevestig en gesê die sake word ondersoek.

Meer oor:  Carolina  |  Drie In Aanhouding  |  Aanranding  |  Spar  |  Man Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.