Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man doodgeskiet in 1 van drie plaasaanvalle

’n Vrou van Limpopo was sentimeters weg van die dood toe ’n rower die motorband waarlangs sy geskuil het flenters geskiet het.

Marietjie Kruger (45) was saam met haar ouers, Gert (81) en Rita (71), toe hulle Saterdagaand deur vier rowers op hul plaas buite Marble Hall, Limpopo, oorrompel is.

Dat hulle oorleef het, is net ’n wonderwerk, sê Kruger.

Gert (81), Marietjie (45) en Rita Kruger (71).

Dit is een van drie voorvalle waarin mense gedurende die naweek op plase in Limpopo en Mpumalanga aangeval is.

Kruger, wat saam met haar ouers op die plaas woon, sê sy en haar ouers het Saterdagaand ’n 80ste verjaarsdagpartytjie bygewoon.

“My pa, ’n afgetrede boer, het gesukkel om die skape in die kraal in te jaag, so ek en my ma het solank in ’n aparte voertuig na die partytjie gery.”

Gert het die aand ná die partytjie eerste huis toe gery. Toe hy omstreeks 20:30 op die plaas stilhou, is hy deur vier rowers oorrompel.

“Hulle het hom met ’n breekyster oor die kop geslaan en sy hande vasgebind. Hy het diep snye op sy kop en hande. Hulle het hom toe op ’n bankie op die stoep laat sit,” sê Kruger

Sowat ’n halfuur later het Kruger en haar ma op die plaas stilgehou. Twee rowers het eerste vir Rita oorrompel en haar by Gert laat sit.

Kruger het een van die rowers se vuurwapen probeer wegklap, waarna hy ’n skoot afgevuur het.

Sy het onder ’n bakkie ingeduik en haar neef gebel.

“Die rower het die band waarlangs ek gelê het stukkend geskiet en gesê ek moet uitkom of hy skiet my. Hulle het my onder die bakkie uitgeruk,” sê sy.

Die rower het die band waarlangs ek gelê het stukkend geskiet en gesê ek moet uitkom of hy skiet my.

Intussen kon haar neef oor die foon hoor daar is moeilikheid op die plaas. Hy het onmiddellik die bure op aangrensende plase laat weet.

“Die rowers het ’n vuurwapen teen my pa se kop gehou en gevra vir die kluis se sleutels. Hulle het die vuurwapens gevat. Hulle wou kontant ook hê, maar ons het geen kontant gehad nie. Hulle het eers gesê ons lieg oor die kontant, maar daarna is hulle weg.”

Kruger sê die eerste buurman het binne tien minute op die plaas gestop om te kom help.

“Die rowers het binne ’n minuut van die buurman se aankoms weggehardloop. Die bure het heeltyd ons fone probeer bel wat die rowers in hul sakke gehad het.”

Volgens Hillel Coetzer, AfriForum se streekshoof van gemeenskapsveiligheid in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga, het die rowers die fone sowat 500 m van die plaashuis in die veld gelos.

Kruger sê haar ouers is getraumatiseer ná die voorval.

“Die feit dat ons vinnig alarm kon maak en die vinnige reaksie van die boere in die omgewing het ons gered.”

Haar broer, Marthinus, sê toe hy Saterdagaand op die toneel kom, was daar sowat 40 bakkies van boere in die omgewing wat die gesin bygestaan het.

“Ons kan vandag net dankie sê vir almal wat kom help het.”

Kruger sê hulle is van die gelukkiges en dat ander plaasaanvalle veel erger gevolge het.

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het die voorval bevestig en sê dit word ondersoek.

Die polisie het ’n soektog begin, maar nog niemand in hegtenis geneem nie. ’n Saak van huisroof word ondersoek.

Gert Kruger
Rowers het Gert Kruger (81) Saterdagaand met ’n breekyster oor die kop geslaan in ’n rooftog op sy plaas naby Marble Hall, Limpopo. Foto: Verskaf

In ’n tweede voorval is ’n paartjie Saterdag omstreeks 20:00 oorval op ’n plaas in die Roodepoort-gebied naby Bela-Bela, Limpopo, wat hulle glo opgepas het.

Ngoepe sê ’n onbekende aantal rowers het op die huis toegesak.

Die man (61) is volgens Coetzer onder die ken geskiet en op die toneel dood.

Die vrou (55) is in die borskas geskiet. Sy is na ’n hospitaal gehaas waar sy tans herstel.

Volgens Ngoepe het die rowers verskeie items gesteel en in die plaaseienaar se bakkie gelaai en weggery.

“Die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en huisroof. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.”

In ’n derde voorval is ’n man omstreeks 00:30 Sondag op ’n plaas naby Waterval-Boven, Mpumalanga, deur ses mans oorval.

“David Hempson (72) was glo alleen tuis toe hy in sy kamer deur ses mans wakker gemaak is. Twee van hulle was glo gewapen,” sê brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga.

Die rowers het aangedring op vuurwapens en kontant.

“Hempson het gesê hy het nie vuurwapens of kontant nie. Die rowers het gedreig om hom dood te maak en het hom met ’n tou vasgebind,” sê Hlathi.

Hempson het toe ingestem om ’n onbekende bedrag kontant vir die rowers te gee asook ’n rewolwer.

Die rowers het te voet gevlug.

Hempson is nie beseer nie en die polisie ondersoek die voorval.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Bela Bela  |  Waterval-Boven  |  Marble Hall  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.