Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man erg beseer toe stuk beton van brug gegooi word
Claudia, JC en Alliana Roos was op pad na Welkom toe ’n stuk beton hul bakkie tref. Foto: Verskaf

Sy het baie klippe naby ’n oënskynlik gevaarlike brug opgemerk soos wat hulle nader gekom het, maar sy het aanvanklik niks daarvan gedink nie.

Noudat sy terugdink, besef sy waarom daar soveel klippe vroegoggend naby daardie brug gelê het. En as sy geweet het wat kom, sou sy waarskynlik anders gereageer het.

So sê Claudia Roos van Rustenburg, Noordwes, oor die gebeure wat haar en haar gesin se lewens in ’n oogwink verander het.

’n Stuk beton het hul bakkie se voorruit Donderdagoggend omstreeks 03:30 getref en haar man bebloed en bewusteloos agter die stuurwiel gelaat.

“Ek het ’n harde slag gehoor. ’n Stuk beton het deur die voorruit die stuurwiel getref en ons het oor ’n bultjie gery en skielik tot stilstand gekom,” vertel Roos.

’n Stuk beton het die bakkie getref.Foto: Ischke de Jager
’n Stuk beton wat van ’n brug gegooi is, het op die Roos-gesin se voertuig beland. Foto: Verskaf
Skade aan die voertuig nadat ’n stuk beton dit getref het.Foto: Verskaf

Roos, haar man, JC (26), en hul 13 maande oue dogtertjie, Alliana, was op pad om vir haar ma in Welkom te gaan kuier.

Hulle het die Hartbeespoort-afrit geneem.

In die donker het sy JC bewusteloos agter die stuur gesien en dadelik haar broer gebel.

“Ek het my boetie van die ongeluk vertel en toe ’n klop aan die venster gehoor. Ek het gedink dié man wou help, maar toe hy omloop na JC se kant waar die venster stukkend was, het hy ’n vuurwapen op my gerig,” sê Roos.

Hy het geld geëis.

“Moet my asseblief nie skiet nie. Moet ook nie my dogtertjie skiet nie,” het Roos gesmeek.

Toe Roos sê hy moet liewer haar selfoon vat, het hy daarna gekyk, toe in JC se rigting gekyk en weggestap.

Minute later het JC wakker geskrik.

Niemand het langs die pad stilgehou om die gesin te help nie. Roos se skoonma was eerste op die toneel.

JC sterk tans aan in ’n hospitaal in Johannesburg. Hy is onder narkose en aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel, maar hy is stabiel.

Sy skedel is gekraak en sy kakebeen het erg seergekry. Sy tande is gebreek waarvan een in sy long gekry is. Dit is die dag van die voorval al verwyder, sê Roos.

Claudia en JC RoosFoto: Verskaf
JC Roos sterk tans aan in ’n hospitaal in Johannesburg nadat ’n stuk beton sy bakkie getref het.Foto: Verskaf

Hy sal Woensdag ’n operasie ondergaan om sy gesig te herkonstrueer.

“Hy lyk vandag (Sondag) baie beter. Die swelling in sy gesig het gesak, so hy doen goed onder die omstandighede,” sê Roos.

“Die een suster het gesê hy is sterk en dat hy hierdeur gaan kom.”

JC is af en toe wakker. Hoewel hy nie kan praat nie, kan hy hoor wanneer iemand met hom praat. Om gesondheidsrisiko’s mag niemand aan hom raak nie.

Roos het ’n paar blou kolle en merkies opgedoen en hul dogtertjie is ongedeerd. Hulle bly tans by haar broer wat naby die hospitaal woon.

Roos verneem daar was die afgelope ruk soortgelyke gevalle waar ’n klip of stuk beton by dieselfde brug afgegooi en ’n voertuig getref is.

“Dit is die aakligste ding en mense moet weet hierdie is ’n realiteit,” sê sy.

* In ’n ander voorval is ’n reuseklip op die N4-hoofweg by Donkerhoek, oos van Pretoria, vanaf ’n brug op ’n vrou se motor gegooi.

Die klip het Elmarie Theunissen, ’n finansiële klerk by Bronkhorstspruit Primary School, se motor net ná 20:00 getref toe sy onder deur die brug op die hoofweg gery het.

Sy was vol glasskerwe. Die klip is aan die linkerkant deur die voorruit en het op die kar se handrem geval, is vroeër berig.

Meer oor:  Jc Roos  |  Claudia Roos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.