’n Man wat na bewering ’n Porsche Cayenne in Pretoria wou kaap, is doodgeskiet.
Die vermeende kaper het Donderdagaand naby die Voortrekkermonument op die Ou Johannesburgpad toegeslaan.
Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê die man was in ’n kritieke toestand waar hy in die pad gelê het toe paramedici op die toneel aankom.

’n Man is Donderdag doodgeskiet nadat hy hierdie Porsche Cayenne glo probeer kaap het. Foto: Verskaf
“Die man het vermoedelik die Porsche probeer kaap toe hy geskiet is,” sê Campbell.
Hy sê die paramedici het om 18:40 saam met die polisie en veiligheidsmaatskappye opgedaag.
“Die vermeende kaper se toestand het vinnig versleg en hy is op die toneel dood.”
Die omstandighede van die skietery is nog nie bekend nie.