’n Man word gesoek nadat ’n vrou en ’n kleuter se lyke in ’n lodge naby Makopane in Limpopo, gevind is.
Die ma (in haar twintigs) en haar kind (2) is glo doodgewurg en hul lyke is Donderdag deur ’n werker van die lodge in ’n kamer aangetref.
Kol. Moatshe Ngoepe, ’n Limpopo polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring dat die oorledenes die kamer by ’n lodge op die R518 met die verdagte gedeel het.
’n Man (in sy dertigs) en vrou en ’n tweejarige kind is Dinsdag omstreeks 19:00 deur ’n onbekende grys motor by die hek van die lodge afgelaai.
Die drie het ’n kamer gehuur vir oornagverblyf sonder om hul persoonlike inligting te verstrek en het die ontvangsdame belowe dat hulle die volgende dag, Woensdag, om 09:00 weer sou vertrek.
Die Woensdagoggend was die ontvangsdame verbaas om geen tekens van die drie te sien nie en het gedink dat hulle die perseel verlaat het.
Sy het Donderdag besluit om die kamer te gaan skoonmaak toe sy die vrou en die kleuter dood aangetref het.
Hulle is doodgewurg en hul hande was agter hul lywe vasgebind. Hul liggame was reeds besig om te begin ontbind.
Daar was ook geen teken van die man wat saam met die twee oorledenes na die lodge toe gekom het nie, lui die verklaring.
Die oorledenes het geen bewys van identifikasie by hulle gehad nie en hul identiteit is nog nie bekend aan die polisie nie.
Luidens die verklaring het die polisie intussen met hul ondersoek begin en lt.genl. Nneke Ledwaba, Limpopo se polisiekommissaris, het ’n 72-uur-aktiveringsplan ingestel om die verdagte op te spoor.