Die vermeende moordenaar van ’n polisielid van Limpopo is Sondagoggend ná ’n groot soektog aangekeer en weer agter tralies.
Die 22-jarige man is by ’n tradisionele geneser in Thohoyandou in hegtenis geneem nadat ’n oom van hom hom glo soontoe geneem het.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê ’n man het Vrydagmiddag omstreeks 16:30 vir ao. Ronald Mulanduli (57) in die Mutale-polisieselle oorval.
Hy het hom etlike kere met ’n mes gesteek. Mulanduli is in die polisieselle dood.
Die 22-jarige man was uit op borgtog van R4 000 nadat hy in Januarie weens motorkaping in hegtenis geneem is.

Ao. Ronald Mulanduli (57)
Hy is Vrydagoggend weens verkragting en die oortreding van ’n beskermingsbevel in hegtenis geneem.
Mulanduli was besig met ’n roetine-inspeksie van die aanhoudingselle toe die man hom oorrompel het.
Die man het glo ook die kluis se sleutels, wat Mulanduli by hom gehad het, gegryp. Hy het toe ook geld uit die kluis in die polisiekantoor gesteel voordat hy weggehardloop het.
Mojapelo sê die man se oom het hom na die tradisionele geneser geneem nadat hy ontsnap het en die oom sal teregstaan vir dwarsboming van die gereg.
Die 22-jarige man sal Dinsdag op aanklagte van verkragting, die oortreding van ’n beskermingsbevel, ontsnapping, moord en gewapende roof in die landdroshof in Mutale verskyn.
Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, het die moord op Mulanduli veroordeel. Dit is nog nie bekend wanneer Mulanduli begrawe sal word nie.