Die polisie soek nog na die man wat ’n werknemer Donderdag helder oordag in sy werksplek in Vryburg, Noordwes, doodgeskiet het.
Daniël Jacobus Ross (58) het in die ontvangsarea van ’n veiligheidsmaatskappy in dié dorp gewerk.
Volgens die polisie het ’n gewapende man omstreeks 15:00 Donderdag die kantore in Stellastraat binnegekom. Die aanvaller het daarop aangedring om met die eienaar van die onderneming te praat, het kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens haar was die eienaar nie in daardie stadium beskikbaar nie.
Ross is toe geskiet en verskeie kere in die bors getref.
’n Werknemer van die veiligheidsmaatskappy, wat anoniem wil bly, het by navraag gesê dit is onseker hoekom daar op Ross geskiet is.
Die skieter was vermoedelik ’n voormalige werknemer van die maatskappy. Daar was volgens die persoon op die oog af geen woordewisseling tussen die verdagte en Ross nie.
Die voorval is op die maatskappy se kringtelevisiestelsel opgeneem.
Ander personeellede van die maatskappy ontvang berading.
Magda Ross, Daniël se weduwee, was Sondag nog te geskok om met die media te praat.
Teen Sondagmiddag was niemand nog vir die moord aangekeer nie.