Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man, hond dood toe aanvallers losbrand

’n Inwoner van Centurion en sy Rhodesiese rifrug, Max, het verbete teen hul aanvallers geveg voor albei Dinsdagnag by hul huis in Heuweloord doodgeskiet is.

Gerrie Nel (68) se vrou, Sandra, het teen Woensdagmiddag nog gesukkel om tot verhaal te kom.

Gerrie Nel. Hy was ’n lewenslustige mens, sê sy vrou, Sandra. Foto: Antoinette Alexander/Facebook

Dinsdagaand het Gerrie, sy vrou, asook hul kleindogter Lee-Handre Blom en haar verloofde, JP Nienaber, in ’n restaurant gaan eet. Dit was om afskeid te neem van JP en Lee-Handre wat Sondag na Nieu-Seeland verhuis.

JP en Lee-Handre het sowat ’n jaar lank by haar grootouers gewoon.

Sandra sê na die ete is hulle huistoe en almal het eers buite op die stoep gesit. Omstreeks 00:30 het sy gesê sy kry koud. Sy het nog nie eens in die bed geklim nie toe hoor sy skote.

Drie mans het volgens haar op haar man en JP afgestorm.

“Gerrie het geveg. Hy het die mans met ’n stoel gegooi. Toe Max sien daar is ’n geveg, wou hy vir Gerrie beskerm. ’n Koeël is deur Gerrie se bors en ’n koeël het vir Max ook getref,” sê Sandra.

JP is ongedeerd.

Gerrie Nel was lief vir honde. Sy Skotse terriër, Bella, is ook in die skietvoorval by sy huis gewond.Foto: Antoinette Alexander/Facebook

Die egpaar se ander hond, Bella, ’n Skotse terriër, is ook getref, maar het oorleef. Sy is na ’n veearts gebring.

Volgens Sandra was daar ’n vierde verdagte wat buite die erf in ’n motor gewag het. Hulle het al vier in die motor gevlug.

“Gerrie het hier by die huis ingehardloop en gesê ek moet die polisie bel,” sê Sandra, terwyl sy wys hoe Gerrie sy hand op sy bors gehou het.

Gerrie het by die tweede trappie voor die deur by die stoep inmekaargesak.

“Hulle het my man ‘point blank’ doodgeskiet, ek kan dit nie anders noem nie. Hoekom my man? Hoekom het hulle hom geskiet? Hy het niemand ooit kwaad gedoen nie.”

Gerrie NelFoto: Antoinette Alexander/Facebook

Gerrie en Sandra het op hoërskool in Stilfontein ontmoet. Die egpaar was vir 45 jaar getroud. Hulle was volgens Sandra onafskeidbaar en het alles saam gedoen.

Hulle woon al 30 jaar in die huis waar die tragedie plaasgevind het.

Sandra moes hul drie dogters, Annelize Meyer, Antoinette Alexander en Estee Blom, Woensdagoggend inlig hul pa is dood.

In ’n Facebook-inskrywing het Antoinette gesê haar pa is te gou weggeruk. “Jou lag, jou snare en jou liefde sal ek nooit weer hoor nie. Hoekom pappa?” lui die inskrywing.

Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê die polisie is steeds op soek na die verdagtes. Mense wat kan help met inligting kan 086 001 0111 bel.

Meer oor:  Gerrie Nel  |  Centurion  |  Misdaad  |  Doodgeskiet  |  Aanvallers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.