Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man hoor gekreun van gewonde vriend op vloer
Netcare 911-paramedici maak gereed om Daniel Wyser per helikopter na ’n hospitaal te neem. Foto: Netcare911

Peter Holmes het Woensdagoggend, toe hy sy goeie vriend se huisdeur oopmaak, ’n gekreun gehoor.

Hy het na Daniel Wyser (60) geroep, maar is begroet met nog ’n kreungeluid, en toe nog een.

“Ek het die gekreun deur die huis gevolg totdat ek vir Danny vasgebind op die badkamervloer gekry het,” het hy later buite die huis in Rietfontein, Pretoria, gesê.

Wyser is in die kop geskiet, maar kon nog praat.

Sy 46-jarige huiswerker was egter reeds dood.

Holmes het albei vasgebind gevind toe hy die oggend by Wyser se huis aankom.

Wyser se drie boesemvriende het teen die middag nog buite die erf, omhein met ’n palissade-heining met geëlektrifiseerde drade bo-op, met mekaar en die polisie gepraat terwyl hul kort-kort probeer uitvind het hoe dit met Wyser gaan.

Hans Hamata en Michael Wipplinger, die twee ander vriende, het gesê dit blyk dat die koeël die “groot been” agter Wyser se oor getref het.

“Die been is gebreek, maar dit klink of die koeël dalk nie die skedel binnegedring het nie,” het hulle hoopvol bespiegel.

Daniel Wyser is ernstig gewond tydens ’n aanval in sy huis in Rietfontein, Pretoria. Foto: Facebook

Holmes sê hy het net voor 11:00 by Wyser aangekom en sy vriend se boerboel buite die hek aan die straat se kant gevind.

“Dit was baie vreemd. Ek het ’n afstandbeheerder vir die hek en het dit oopgemaak, denkende as Danny nie tuis is nie, weet ek die huiswerker sal hier wees.”

Die enkellopende Wyser het alleen gewoon.

“Toe ek die deur oopmaak, hoor ek ’n kreun. Ek het na Danny geroep, toe volg nog ’n kreun. Hy het op die badkamervloer gelê, hande en voete met kleefband vasgebind. Hy het gesê hy dink hy is geskiet. Ek het sy gesig bekyk, sy hemp opgelig, maar kon niks sien nie.

“Ek het later by die paramedici gehoor hy is in die kop, agter die oor geskiet, maar hy het op daai kant gelê,” sê Holmes.

Danny wou ook weet waar die huiswerker is.

Toe ek die deur oopmaak, hoor ek ’n kreun. Ek het na Danny geroep, toe volg nog ’n kreun. Hy het op die badkamervloer gelê, hande en voete met kleefband vasgebind. Hy het gesê hy dink hy is geskiet. Ek het sy gesig bekyk, sy hemp opgelig, maar kon niks sien nie.

Sy vriend het vroeër ’n mes in die kombuis gaan haal, tussendeur die nooddienste ontbied en sy vrou gebel om die polisie te ontbied toe hy sukkel om deur te kom.

Hy het ook na die huiswerker begin soek.

“Ek het haar op die een slaapkamer se vloer gekry, ook vasgebind. Ek kon dadelik sien daar is geen teken van lewe nie,” voeg Holmes by.

Shawn Herbst van die Netcare 911-nooddienste het gesê die huiswerker is op die toneel dood verklaar. Wyser is weens die erns van sy kopwond  in ’n kritieke toestand per helikopter na ’n hospitaal geneem.

Omstanders sê die helikopter moes noodgedwonge op ’n oop terrein by die skool oorkant die huis land omdat daar nie plek in die doodloopstraat was nie.

Ancelize van der Kooi van Kilnerpark Sekuriteit sê ’n buurman van Wyser het hulle net ná 11:00 ontbied met die boodskap dat iemand geskiet is.

Polisie verwyder die geel misdaadlinte wat voor die huis gespan was nadat hul ondersoek op die toneel afgehandel is. Foto: Hanti Otto

“Ons mense het soontoe gejaag. Die Netcare-helikopter was toe reeds besig om die eienaar van die huis op te laai.

“Dit blyk dat ’n onbekende aantal verdagtes die eienaar en huiswerker oorval, vasgebind en albei geskiet het. Hulle het gevlug met die eienaar se een voertuig.”

Holmes sê hy het die aanvallers vermoedelik net-net misgeloop.

Inwoners van die omgewing bevestig dit, want volgens beeldmateriaal van ’n nabygeleë straatkamera was die tuindienste-voertuig die laaste een wat by die doodloopstraat uitgery het. Daarna is daar nie weer ’n voertuig die straat in nie, maar om 10:50 het Wyser se geroofde voertuig uit die straat gery gekom.

Benewens die voertuig lyk dit tans of die aanvallers Wyser se vuurwapens uit ’n kluis gebuit het.

• Die huiswerker se naam is aan Netwerk24 bekend, maar teen druktyd is al haar naasbestaandes nog nie van haar dood ingelig nie.

Die polisie het nog nie op navrae gereageer nie.

Polisie verwyder die geel misdaadlinte wat voor die huis gespan was nadat hul ondersoek op die toneel afgehandel is. Foto: Hanti Otto
Lede van die polisie se forensies patologiese afdeling het hul voertuig so na moontlik aan die huis getrek voordat hulle met ’n draagbaar in is om die vermoorde huiswerker se lyk te verwyder. Foto: Hanti Otto
Daniel Wyser se drie vriende, Michael Wipplinger, Hans Hamata en Peter Holmes, op pad om die huis te gaan sluit nadat die polisie weg is. Foto: Hanti Otto

Meer oor:  Rietfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.