Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man hou aanvallers uit huis voor hy doodgeskiet is
Charlotte Freeman en Werner de Bruin.

Die 33-jarige man wat Donderdag op ’n kleinhoewe oos van Pretoria doodgeskiet is, het waarskynlik die lewens van drie ander mense gered.

Werner de Bruin het gekeer dat drie gewapende mans by die huis inkom waar hy saam met sy lewensmaat, sy seuntjie en nog ’n jong seun was.

As hy dit nie gedoen het nie, kon veel meer mense dood gewees het, sê Richard Freeman, seun van De Bruin se lewensmaat, Charlotte Freeman (46).

Sy en hul tweejarige seuntjie was by hom in die huis. Charlotte se agtjarige kleinseun was ook daar tydens die voorval.

“As hulle bereid was om Werner dood te skiet, sou niks hulle keer om my ma en die twee jong kinders ook dood te maak nie,” sê Richard.

Werner was, soos Charlotte, werknemers van dr. Ockert Botha, ’n veearts en sakeman. Hulle woon al sowat vier jaar in ’n afsonderlike huis op die kleinhoewe waar Botha al die afgelope 15 jaar woon.

Die tweeslaapkamerhuis is naby ’n grondpad in Mooiplaats in die Boschkop-omgewing.

Die tweeslaapkamerhuis op die kleinhoewe in Mooiplaats in die Boschkop-omgewing waar Werner de Bruin (33) Donderdag in die vroeë oggendure doodgeskiet is. Foto: Deaan Vivier

Botha sê Charlotte het hom omstreeks 01:00 gebel.

“Ons honde het baie geblaf en die alarm het afgegaan. Net daarna het sy gebel en gesê: ‘Kom dadelik, Werner is geskiet.’

“’n Polisieman van die Boschkop-polisiekantoor woon op die kleinhoewe langsaan. Sy het hom eerste gebel en hy het soontoe gejaag.”

Botha het dadelik die Echo-1-veiligheidsmaatskappy en Netcare 911 ontbied.

“Werner het glo die nag wakker geword. Drie mans was buite by die (glas-)voordeur en hy het vir hulle geskreeu om weg te gaan. Maar toe skiet hulle hom in elk geval. Hy is in die bors getref.

“Hy het inmekaargesak en toe na die kamer gekruip.

“Netcare 911 was baie gou daar, maar hy is dood voordat hulle daar opgedaag het,” sê Botha.

Werner het glo die nag wakker geword. Drie mans was buite by die (glas-)voordeur en het vir hom geskreeu om weg te gaan. Maar toe skiet hulle hom in elk geval. Hy is in die bors getref.

Richard sê hy verstaan De Bruin is deur die glasdeur geskiet. “Toe hy by die kamer uitkom, het hy die ouens gesien wat die voordeur probeer afbreek om by die huis in te kom,” sê Richard.

“Ek vermoed hulle het geskiet toe hy hulle nader om die Trellidor aan die binnekant toe te maak. Hy kon die veiligheidsdeur toekry en dít is wat hulle (Charlotte en die twee kinders) lewens gered het.

“As hy dit nie toegekry het nie, het hulle volle toegang tot die huis gehad. Hulle was gewapen en dit kon nog leliker verloop het.”

Die polisievoertuig se blou ligte en sirene het hulle waarskynlik afgeskrik en hulle het met twee selfone gevlug wat hulle op ’n manier deur die hek in die hande kon kry.

Charlotte en die kinders is ongedeerd.

Hy kon die veiligheidsdeur toekry en dít is wat hulle (Charlotte en die twee kinders) lewens gered het. As hy dit nie toegekry het nie, het hulle volle toegang tot die huis gehad. Hulle was gewapen en dit kon nog leliker verloop het.

Werner se begrafnisdiens word op 27 Augustus in die NG kerk Oosterlig gehou.

Botha is vol lof vir die Echo-1-veiligheidsmaatskappy, Netcare 911 en die polisie vir hul goeie werk.

Kapt. Mavela Masondo, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval in ’n verklaring bevestig en gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Werner De Bruin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.