
Chantelle Ash en haar baba, Tasneem, is ’n week gelede vermoor. Foto: Verskaf
’n Man van Bangladesj is Donderdagmiddag in Johannesburg in hegtenis geneem vir die moorde op ’n ma en haar baba van Mokopane in Limpopo.
Netwerk24 het by ’n ingeligte bron na aan die ondersoek bevestig dat die man in hegtenis geneem is.
Die 29-jarige man is Donderdagmiddag deur die polisie van Johannesburg na Limpopo gebring. Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, kon nie sê wanneer hy in die landdroshof in Mokopane sal verskyn nie.
Hy was glo betrokke by die moorde op Chantelle Ash (20) en haar agt maande oue baba, Tasneem.
Hul lyke is verlede Donderdag in die Maponya-lodge buite Mokopane gekry. Hulle is verwurg en hul hande was agter hul rug vasgebind.
Hulle is Woensdag in Pretoria begrawe. Ash het in Desember die Moslem-geloof aangeneem.
Lees ook: Niemand nog vas nadat ma, baba by lodge vermoor is