Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man in hof ná skietery in Pta-rekenaarwinkel

Dit was glo vroue-klante en -werknemers wat verlede week een van drie aanvallers in ’n rekenaarwinkel oorrompel het toe sy vuurwapen gestaak het.

Dit was kort nadat rowers verlede Donderdag vir Leon van der Merwe (61) tromp-op doodgeskiet het, Coert Oberholzer (54), die eienaar van Compuport Computer Consulting, van agter geskiet en vir Kobus Botha (50) in die arm getref het.

Bossies blomme is Vrydag by die hek van die rekenaarwinkel ingedruk nadat Leon van der Merwe daar vermoor is en twee ander tydens ’n aanval gewond is. Foto: Felix Dlangamandla

Een aanvaller het gevlug in wat, volgens foto’s van die toneel, byna ’n bloedbad was. Nog ’n aanvaller is doodgeskiet.

Mike Sithole (31), na bewering die derde makker, is in dié winkel in Queenswood, Pretoria, deur die vroue oorrompel toe sy wapen tydens die skietery gestaak het.

Hulle het hom, luidens bronne, aangehou totdat die polisie opgedaag het.

Maandag het ’n fronsende Sithole, ’n Zimbabwiër wat in Boksburg bly, in die landdroshof in Pretoria verskyn in verband met dié voorval op 7 November.

Luidens die klagstaat staar hy twee aanklagte van moord, gepleeg met ’n gemeenskaplike doel, in die gesig.

Die een moordaanklag verwys na Van der Merwe. Die ander een na die aanvaller wat op die toneel doodgeskiet is.

Die staat sal aanvoer dat Sithole (en die ander aanvaller) verantwoordelik is vir hul makker se dood, omdat hulle moes kon voorsien het dat hul optrede iemand se lewe kon kos.

Daar is nog nie ’n naam vir dié oorlede makker op die klagstaat nie, vermoedelik omdat hy nog nie geïdentifiseer is nie.

Sithole word ook van poging tot moord op onderskeidelik Oberholzer en Botha aangekla, sowel as roof met verswarende omstandighede.

’n Privaat advokaat het Sithole in die hof verteenwoordig, maar niemand kon verduidelik hoe die beskuldigde dié sou kon bekostig nie.

Kagiso Rancho, die staatsaanklaer, het gevra dat die saak na later die maand uitgestel word sodat die ondersoekbeampte kan bepaal of Sithole wettig in die land is.

Daarby wil die staat sy adres bevestig en bepaal of die beskuldigde enige vorige veroordelings en/of hangende sake teen hom het.

Sithole bly in aanhouding.

Sy arrestasie volg nadat drie gewapende mans verlede week net voor 13:00 by die winkel ingestorm het.

Luidens bronne was Van der Merwe by die ingangsdeur toe hy in die aanvallers vasloop.

Hy is net daar in die kop geskiet.

Die rowers het skreeuend selfone, juwele en kontant van die 11 mense in die winkel geëis en ook skootrekenaars gevat.

Oberholzer kon in ’n stadium sy eie vuurwapen bereik, maar is, hoewel hy ’n skoot afgevuur kon kry, self van agter onder die ribbekas gewond.

Jana Reyneke, ’n familievriend, het gesê Botha en Van der Merwe was jare lange klante én vriende van Oberholzer en sy vrou, Isabel.

Botha is Maandagoggend uit die hospitaal ontslaan.

Oberholzer is nog in die waakeenheid.

“Coert is nog onder erge verdowing, maar dit gaan dag vir dag beter. Ons is baie dankbaar daarvoor,” het Reyneke gesê.

* Die polisie is nog op soek na die derde verdagte. Mense met inligting kan 10111 of 0860 10111 skakel of ’n SMS na 33221 stuur.

Meer oor:  Pretoria  |  Moord  |  Skietery  |  Hofverskyning  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.