Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man is vas, maar waar is Tazne?

In hul beskeie wendyhuis in die voorplaas van die skakelwoonstel in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier, is die sit- en kombuisgedeelte vol foto’s van hul kinders.

Drie foto’s van hul dogter Tazne van Wyk (8) geniet prominente staanplek.

Terrence Manuel en Carmen Van Wyk, Tazne van Wyk se ouers, het Dinsdag gevra dat die persoon wat hul dogter ontvoer het, haar asseblief aan hulle moet terugbesorg. Foto: Adrian de Kock

Twee is langs mekaar op roomkleurige karton vasgeplak. Dit staan bo-op die kombuiskas. Die ander foto van Tazne is in die TV-kas.

Terrence Manuel (31) en Carmen van Wyk (28) het nog geen idee waar hul oudste kind is nie. Tazne het op 7 Februarie verdwyn nadat sy na ’n nabygeleë huiswinkel gestuur is om twee sigarette te gaan koop.

Tazne van Wyk (8) word sedert 7 Februarie vermis.Foto: Verskaf

Manuel, Tazne se pa, het Dinsdag gesê dat hy nie sy kind winkel toe gestuur het nie.

“Ek het gedog sy is deur my ouma gestuur en dat my ouma haar dophou omdat sy by die venster gesit het."

Hulle het Tazne nie weer daarna gesien nie.

Manuel en Van Wyk, Tazne se ma, het Dinsdagoggend op Facebook ’n berig gesien dat ’n man wat die polisie as ’n persoon van belang in hul kind se verdwyning geïdentifiseer het in ’n Oos-Kaapse dorp in hegtenis geneem is.

Die man, Moyhdine Pangarker (54), is in hegtenis geneem in verband met ’n uitstaande lasbrief wat uitgereik is nadat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het.

Die twee plakkate is van die foto’s wat Tazne van Wyk se ouers in hul wendyhuis van haar opgesit het. Foto: Adrian de Kock

Manuel sê hulle het die polisie in Ravensmead gekontak nadat hulle die inligting gekry het en daar is bevestig die man is vasgetrek.

Hy wil net by sy kind se vermeende ontvoerder weet waar sy is en wat sy bedoeling met haar is.

“Watse soort mens doen dit aan ouers? Hy is mos ook ’n ouer. Het hy dan nie ’n hart nie?”

Manuel sê die situasie is baie swaar vir Van Wyk.

“Sy het vir Tazne nege maande gedra. Sy het haar in die lewe gebring.”

Hy hoop dat Tazne se vermeende ontvoerder nooit weer uit die tronk vrygelaat word nie.

“Hy is nie normaal nie, hy verdien nie om te lewe nie,” sê Manuel.

Die vermiste Tazne van Wyk se foto is ook by die Eurecon Primêr in Connaught Estate waar sy skoolgaan, opgeplak. Foto: Adrian de Kock

Van Wyk beskryf haar dogter as ’n teruggetrokke kind. Volgens haar het Tazne maar altyd voor die televisie gesit of springtou of skooltjie-skooltjie met haar maatjies gespeel.

Die ouerpaar se laaste pleidooi aan hul kind se vermeende ontvoerder is: “Sê asseblief net waar ons kind is.”

Meer oor:  Tazne Van Wyk  |  Elsiesrivier  |  Vermis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.