Boodskappe van sterkte en medelye het Dinsdag op die Facebook-blad van Romeo Martin (44) van die Paarl ingestroom.
Martin se lyk is Saterdag omstreeks 15:20 gevind in die woonstel wat hy by ’n vakansieoord in Margate, KwaZulu-Natal, gehuur het. Hy is vermoor.

Romeo Martin. Foto: Facebook
’n Polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, kapt. Nqobile Gwala, het gesê ’n skoonmaker van die oord het Saterdagmiddag by Martin se woonstel opgedaag om dit skoon te maak, maar daar was geen antwoord toe sy geklop het nie. Die deur van die woonstel was gesluit.
Die skoonmaker is na die ontvangs, waar sy ’n spaarsleutel gevra het. In die woonstel het sy gesien dat van Martin se besittings in die woonstel rondgestrooi is en dat daar bloedspatsels op die vloer was.
Sy lyk was op die vloer en sy keel is gesny. Sy nek was met ’n handdoek toegemaak.
Hy het verlede jaar van Paarl na Margate getrek en was ’n laboratorium-adviseur vir SEAD Consulting.
Hy het ’n langtermynhuurkontrak by die vakansieoord gehad.
Martin, wat aan die Klein Nederburg Sekondêre Skool in Paarl gematrikuleer het, het biomediese tegnologie by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie gestudeer.
Volgens sy Facebook-blad was hy voordat hy na Margate verhuis het as mediese tegnoloog by vigsnavorsing betrokke.
SEAD Consulting het bevestig dat Martin vir hulle gewerk het.