Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man kom glo terug om vrou op Kersoggend weer te verkrag

’n Onderwyseres van Springfontein in die Vrystaat se vermeende verkragter het haar vroeg op Kersoggend na bewering ’n tweede keer verkrag nadat hy haar glo ’n paar dae voor dié voorval ook verkrag en gewaarsku het hy gaan terugkom.

Die 23-jarige man is Saterdagoggend in hegtenis geneem en het reeds Maandag die eerste keer op twee aanklagte van verkragting in die hof verskyn.

Hy is steeds in aanhouding en moet weer Donderdag op twee aanklagte van verkragting in die hof verskyn.

Dit kom nadat hy na bewering ’n 56-jarige onderwyser, by wie hy ook in die klas was, in die nag van 21 Desember die eerste keer verkrag het.

Hy het ’n paar dae later teruggekom en haar na bewering weer verkrag. Hy het haar na bewering ook aangerand in ’n poging om haar te verhoed om hom uit te ken.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die vrou het geslaap toe die man toegeslaan het. Sy kan egter nie onthou of sy die deur gesluit het nie.

Toe die man die tweede keer terugkeer, het hy die slot afgebreek om toegang tot die huis te verkry.

Hy het ná die eerste keer gesê hy kom terug. As die polisie hom ná daardie voorval gevang het, sou die tweede verkragting nie plaasgevind het nie.

Volgens Mbambo het die man beweer hy en die slagoffer is in ’n verhouding.

Haar 47-jarige vriendin sê die man, wat aan hul albei bekend is, was die oggend van die eerste beweerde verkragting omstreeks 03:00 in haar huis.

“Ek sluit nie my deure nie, want ek wil nie soos ’n gevangene bly nie. Dit is hoe hy ingekom het. Ek het vir hom gevra wat hy in my huis doen en hy het gesê hy het van my gedroom. Ek het gesê hy moet loop voordat my honde kom, want hulle sou hom aanval.

“Hy het eers geloop toe hy sien my vriendin (die slagoffer) se seun (21) slaap by my oor. Hy is toe na haar toe en het haar gaan seermaak,” sê die vriendin.

Volgens haar vermoed hulle ’n tweede man het saam met die vermeende verkragter gewerk en het die honde agter die huis besig gehou terwyl hy inglip.

Die vriendin sê met die tweede verkragting het die man haar vriendin in die gesig geslaan sodat sy hom nie moes sien en uitken nie. Hy het na bewering ook haar selfoon gesteel.

“Hy het ná die eerste keer gesê hy kom terug. As die polisie hom ná daardie voorval gevang het, sou die tweede verkragting nie plaasgevind het nie.

“Dit is moeilik vir haar. Sy is getraumatiseer en is skaam oor wat gebeur het. Sy hanteer dit nie goed nie. Dié is ’n klein dorpie. Ek gaan loer elke aand ná werk by haar in en probeer haar troos. Dit is nie lekker nie.”

Die ondersoek duur voort en volgens Mbambo kan meer aanklagte later bygevoeg word.

Meer oor:  Kol. Thandi Mbambo  |  Springfontein  |  Vrystaat  |  Onderwyseres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.